Deur: Genl.maj. Chris van Zyl (aft), Adjunk Hoofbestuurder TLU SA
Wêreldwyd (met enkele uitsonderings) beleef mense die vreemde ervaring van inperking en – sosiaal- en ekonomies gesproke – isolasie. Benewens die impak van gedwonge afsondering en eensaamheid, hang die risiko van ‘n onsigbare bedreiging in die vorm van ‘n virus wat ‘n wêreldwye impak maak, oor almal se koppe.
Oor tyd heen, het ons op ‘n eg Suid-Afrikaanse wyse gewoond geraak om bedag te wees op die bedreiging van misdadigers wat ons gewelddadig bedreig en wat hulself wil verryk met alles wat steel- en verkwanselbaar is. Dit is veral op plase en hoewes waar ons sedert die laat tagtigs toenemend bewus geword het van ‘n gewelddadige aanslag op plaasbewoners, en meer spesifiek op boere.
Sedert die inperking in Suid-Afrika afgekondig is, het geweldsmisdaad met bykans die helfte afgeneem, maar terselfdertyd het diefstal van lewende hawe en eetbare produkte dramaties toegeneem. In sy wese is hongerte saam met die behoefte om veilig te leef, een van die sterkste drange wat mense tot uiterstes kan dryf – beide hou immers direk verband met oorlewing.
Oor tyd het stedelinge, dorpenaars, hoewebewoners en landbouers kennis geneem en aanpassings gemaak om in die veiligheid van hul huise die waaksaamheid te verbeter. Goeie omheinings, alarmstelsels, beligting, veiligheidshekke, diefwering en ‘n verhoogde vlak van veiligheidsbewustheid het grootliks die norm geword. Tragies egter, is die feit dat talle slagoffers daardie onbenydenswaardige status toeval wanneer ‘n verslapping van waaksaamheid die ideale geleentheid vir misdadigers en kriminele bied om toe te slaan.
Vir boere wat in relatiewe afsondering woon én werk, is daar egter ‘n bykomende kwesbaarheid wat veral in hierdie unieke en beproewende tyd ‘n realiteit is – die veiligheid van sy vee en sy oes op die lande is op risiko; veral so wanneer desperate mense deur honger, maar ook deur selfverryking gedryf word.
Geen boer is in staat om die omvang van sy eiendom 24 uur per dag, sewe dae per week onder oë te hê en te beveilig nie. Om dinge te vererger, het politici en owerheidsverteenwoordigers in geen onduidelike terme ‘n ferm stokkie voor die bestaande praktyk van kollektiewe veiligheidsoptrede in die vorm van Plaaswagte en Landelike Patrollies in landbougebiede, gesteek. Dit, ondanks die feit dat die SAPD se kapasiteit in die landelike gebiede yl versprei en reeds swaar belas is om die toepaslike regulasies af te dwing.
Waarmee die landbougemeenskap tans te doen het, is in werklikheid ‘n komplekse bedreiging. Nie alleen word lewe en liggaam bedreig deur kriminele bendes wat – sonder aansiens des persoons – nie skroom om ernstige liggaamlike leed uit te deel nie, maar verkragting en doelgerigte marteling word dikwels opgevolg met brutale moord van bejaarde en weerlose slagoffers. Benewens dit, is eiendom in die vorm van lewende hawe en oeste toenemend te midde van ‘n oneffektiewe voedingskema vir die groot getalle werkloses wat ‘n armoedige bestaan voer, op geweldige risiko.
Die laaste komponent waarmee meeste mense te doen het, is meer kompleks – dit is die COVID-19 virus self. Opeens verskuif die potensiële bedreiging weg van die allerbekende terrein van geweldsmisdaad, na persoonlike interaksie met vriende, kliënte, werknemers en besoekers.
Niemand weet welke kontak sodanige persone gehad het met andere wat onwetend reeds die virus onder lede het nie. Alhoewel die beskikbare statistiek ‘n effens meer optimistiese prentjie voorhou as wat tans die geval in baie ander lande is, hang daar groot vraagtekens oor die werklike toedrag van sake in Suid-Afrika – en meer so oor die groot getalle mense wat in informele woongebiede bly, waar die handhawing van ‘n sosiale afstand en ander voorsorgmaatreëls soos gesigmaskers, gereelde handewas en hoes-in-die-elmboog grootliks ‘n mite is.
Die gesamentlike impak van velerlei misdade te midde van ‘n ernstige virusbedreiging hou die risiko in om oor ‘n veel breër front die wetsgehoorsame burger, maar veral die relatief-geïsoleerde landbougesinne op plase en hoewes te bedreig. Enersyds bevestig dit die instandhouding van sekuriteits- en veiligheidsmaatreëls (wat reeds in plek moes wees) asook die beveiliging van lewe maar ook veral eiendom (in die vorm van voedsel in welke formaat). Hierdie toedrag van sake gaan vir ‘n onbekende periode in die toekoms geld want kitsoplossings om die virus se bedreiging te neutraliseer, is nog nie op die horison nie. Kenners is van mening dat so iets eers in 2021 moontlik die lig mag sien.
TLU SA het sedert vroeg in 2018 begin met ‘n reeks Veiligheidsbulletins wat gereeld beskikbaar gestel was. Daardie Bulletins bevat ‘n verskeidenheid praktiese wenke wat ‘n wye spektrum van aktiwiteite en aanbevelings dek.
Alles is belangrik en het ‘n plek, maar die grootste uitdaging is om nie ontwikkelende situasies op gesigwaarde te beoordeel nie. Mense wat skemeraand skielik hoenders of skape wil koop, ‘n kind wat snags in die donker buite ‘n slaapkamervenster huil, ‘n laataand klop aan die voordeur of ‘n venster, ‘n vreemdeling wat sommer uit die bloute wil hand skud, ‘n plaashek wat gewoonlik oop is maar nou toe is, moet die rooi ligte laat aangaan.
Wees veilig en wees heilig op u eie gesondheid.