TLU SA kondig met opgewondenheid aan dat registrasies vir die jaarlikse Jongboerkonferensie amptelik oop is. Die geleentheid vind op 13 Maart 2026 by Gecko Ridge, Mooiplaas, Pretoria plaas. Vanjaar se tema “Boer 2.0: Die nuwe generasie boer & Agri Ekspo.” Hierdie konferensie is ’n ankergeleentheid op die jongboer-kalender en bring elke jaar ’n dinamiese groep jong landbouleiers bymekaar om kennis op te bou, inspirasie te kry en waardevolle netwerke te vorm.
Volgens die voorsitter van die Jongboerkomitee, Clemens Senekal, is hierdie jaar se tema doelbewus gekies om die veranderende werklikheid van boerdery aan te spreek. “Ons leef in ’n tyd waar boerdery vinnig verander, tegnologie, markdruk en klimaatsuitdagings vra van jong produsente om slimmer, meer ingelig en meer veerkragtig te wees. Die Jongboerkonferensie is juis daarop gemik om hierdie nuwe generasie toe te rus met kennis, perspektief en praktiese hulpmiddels om volhoubaar vorentoe te boer,” sê hy. Die konferensie fokus sterk op ontwikkeling, visie en die praktiese vaardighede wat jong produsente nodig het om in ’n mededingende en veeleisende sektor volhoubaar te groei.
Die dag begin om 09:00 met koffie, tee en muffins, asook toegang tot die Agri Ekspo waar jong boere met nuwe tegnologieë, produkte en oplossings kan kennis maak. Daarna volg ’n vol program van insiggewende sessies, insluitend die rol van landboustrukture, die ware waarde van die TLU SA Jongboer-kompetisie, belangrike regsaspekte en die uitdagings en moontlikhede van selfbegin-boerdery. Bekende sprekers soos Clemens Senekal, ds. Leon Lubbe, Adv. Charles Lloyd, Willem van der Merwe, Francois du Toit en Daandré Coetzee sal deur die loop van die dag hul kennis en ervarings deel, terwyl toonaangewende borge ook geleentheid kry om hul kundigheid en oplossings aan te bied.
Deelnemers kan uitsien na ’n goed gebalanseerde program wat nie slegs inhoud van hoë gehalte bied nie, maar ook genoeg tyd vir netwerk, vrae en gesprekke. Tydens die teepouse, wat vingerhappies insluit, en tydens die middagete word jong boere verder aangemoedig om met mekaar en met die borge te skakel. Die Agri Ekspo bly dwarsdeur die dag oop en skep ’n praktiese ruimte waar deelnemers eerstehands kan sien hoe tegnologie, toerusting en vaardighede in die moderne boerderyfunksie integreer.
TLU SA nooi alle jong boere, van gevestigde produsente tot diegene wat nog hul eerste treë in die sektore gee, om vroegtydig te registreer, aangesien sitplekke beperk is. Registrasies is nou oop op die TLU SA-webwerf, en belangstellendes word aangemoedig om hul plek betyds te bespreek vir hierdie waardevolle en inspirerende dag.
Vir meer inligting of navrae, kontak Mariëtte Minnaar by sekretaresse@tlu.co.za.



