James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Sasol en die kunsmis samespanning

As fasiliteerder van boere se eise ter verhaling van skade ten aansien van samespanning in die kunsmisbedryf waarby Sasol betrokke was, is TLU SA uiters teleurgesteld in die houding van Sasol in die poging van TLU SA om die aangeleentheid sonder enige litigasie op te los. Sasol het aanvanklik aangedui dat boere met regmatige eise vir die skade weens die samespanning in die kunsmisbedryf vergoed sou word. Nieteenstaande volle blootlegging en verskeie gesprekke deur TLU SA het Sasol dit nie eens waardig geag om met enige redelike teenvoorstel en in die belang van landbou die aangeleentheid af te handel nie. Met hierdie optrede dwing Sasol die boere wat eise instel om die hof vir bepaling van skade te nader.  

Die eise deur die boere ten aansien van die oortreding van die Kompetisie Wet is gebaseer op art. 65 van die Wet kragtens waarvan die hof nie met meriete in die saak mee mag handel nie maar bloot die bedrag skadevergoeding aan die boere wat skade gely het moet bepaal. Die werking van die Wet hou derhalwe in dat boere se skade geag reeds bewys te wees en dat die enigste uitstaande aspek waarmee gehandel moet word die bedrag om skadevergoeding wat aan elke afsonderlike boer betaalbaar is. Dit is dan ook betreurenswaardig dat Sasol, soos dit blyk, boere forseer om die hof vir die bepaling van die bedrag skade te nader.

Ons forensiese ouditeurs het tesame met ons regspan reeds die metodes ter bepaling van skade soos dit internasionaal toegepas word vasgestel. Die dagvaarding in die aksie om bepaling van die bedrag skade is ook gereed om uitgereik te word. Daar is besluit om aan boere wat nog nie deel van die aksie ter verhaling van hul skade weens die oortreding van die Kompetisie Wet deur Sasol is nie, die geleentheid te gee om met TLU SA voor einde Maart 2012 te skakel en sodoende tot die aksie om verhaling van skade gevoeg te word. Sodanige boere se aankope van kunsmis by Sasol moes vir die tydperk van 1996 tot 2004 gewees het. Die dagvaarding sal nie na hierdie laaste geleentheid tot toetrede deur boere verder gewysig word nie en is dit ook die laaste geleentheid vir boere wat skade weens die samespanning in die kunsmisbedryf deur Sasol opgedoen het om hul skade te verhaal.

Boere wat hulle wil voeg tot die saak moet dringend en voor einde Maart 2012 ‘n e-pos aanstuur na sekretaresse@tlu.co.za“>sekretaresse@tlu.co.za sodat die volledige aansoekprosedures beskikbaar gestel kan word.

Kategorie:

Deel dit:

Sasol en die kunsmis samespanning