James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA bekommerd oor sentralisering van water

TLU SA is bekommerd dat die sentralisering van waterbronne gedurende die tydperk van COVID-19 inperking nie om die regte redes geskied nie en dat dit ‘n negatiewe invloed op boere gaan hê.
 
Die Minister van Water en Sanitasie, Lindiwe Sisulu, het op 2 April 2020 aangekondig dat watertoewysing gesentraliseer sal word by ‘n Johannesburgse beheersentrum tydens die COVID-19 inperking. Randwater in Johannesburg – wat volgens die departement reeds al die nodige tegnologie in plek het vir so ‘n taak – sal alle versoeke oor water van daar af beheer.
 
“Ons is nie oortuig dat Randwater wel oor die nodige tegnologie, en die departement oor die nodige vaardighede beskik nie,” sê mnr. Steven Vermaak, die voorsitter van TLU SA se Watersake Komitee. “TLU SA sukkel nou reeds hoe lank om ‘n dispuut oor water namens lede opgelos te kry. Ons wag ook nogsteeds op terugvoer oor die installering van watermeters. Die departement faal daarin om hulleself en die lewensbelangrike hulpbron, water, na behore te bestuur.
 
“Is hierdie nie ‘n verdere poging om meer fondse te bekom om die wanorde in die departement te verdoesel nie?” vra hy.
 
In die geval van besproeiingsrade – hoofsaaklik boere en individue wat waterregte besit – sal daardie rade ook opdrag kry om water aan die regering beskikbaar te stel.
 
“Ons wil weereens die noodsaaklikheid van voedselsekerheid beklemtoon,” sê mnr Vermaak. “’n Onverantwoordelike besluit soos die herskedulering van besproeiingswater kan voedselsekerheid vir die toekoms in gedrang bring.”   

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA bekommerd oor sentralisering van water