TLU SA betreur die minister van arbeid en indiensneming, mnr. Thulas Nxesi se benadering en hantering van die geskil ten opsigte van die verhoogde minimum loon van 16,1% vir plaaswerkers.
“Ons het herhaaldelik na die minister uitgereik om ‘n gesprek aan te lê om tot ‘n sinvolle vergelyk en oplossing te kom,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Dit is ‘n kwade dag dat die minister van arbeid in ‘n land waar die werkloosheidsyfer op 42% staan, eerder bereid is om werksverliese te veroorsaak as om te probeer om na die belange van die werkers in die produksieproses om te sien.
“Wie kyk na die werklose mense in die land?”.
TLU SA het alles moontlik gedoen om te verhoed dat produsente afleggings moet doen om te kan voldoen aan die produksievereistes wat vir winsgewendheid nodig is. Die werklose massas wat smag na die geleentheid om te kan werk, maar deur die ANC se beleid daarvan ontneem word, skep ‘n onaanvaarbare sosio-maatskaplike probleem vir die land.
Elke produsent moet nou opnuut hulle winsgewendheid en produktiwiteit ontleed en evalueer. Operasionele aanpassings sal noodwendig gemaak moet word om in produksie te bly.
Die stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie verg nou dat alles moontlik gedoen word om dit te stimuleer sodat die land by ekonomiese groei kan uitkom. Dit sou insluit dat die produksiefaktore so bekostigbaar as moontlik binne bereik van die entrepreneurs geplaas moet word.
“Terwyl die president beloof om die ekonomie te herbou, beloof die minister afleggings en skade aan die ekonomie,” sê mnr. Geldenhuys. “Miskien moet die president oorweeg of Minister Nxesi wel die regte persoon vir die werk is.”
Uitgereik deur: TLU SA
Datum: 1 Maart 2021
Navrae: Mnr Henry Geldenhuys, President TLU SA,
Sel.: 083 560 1273
Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,
Sel.: 082 466 4470