Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Die ANC is huigelaars wat hulle op die grondwet beroep soos wat dit hulle agenda pas, maar andersins amptelike aankondigings maak soos wat hulle lus het, ongeag die grondwetlikheid daarvan. TLU SA dring daarop aan dat Adjunk President David Mabuza sy woorde rondom restitusie terugtrek.

Mnr. Mabuza het tydens ‘n antwoord-sessie in die parlement gesê die regering sal onteiening sonder vergoeding gebruik om restitusie-eise af te handel en dat die onteiening van grond maar een van die stukke gereedskap is om grondhervorming toe te pas.

“Hierdie kommentaar bring die ware kleure van die ANC na vore,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Die wyse hoe senior lede van die ANC hulle hoegenaamd nie steur aan die land se grondwet nie en bloot voortstu met populistiese uitsprake om hulle radikale ondersteuningsbasis se guns voor die verkiesing te wen, wys duidelik dat die ANC se voortbestaan vir hulle meer gewig dra as die land en mense.”

Die adjunk-president het verder gesê dat hulle nie gaan wag totdat die regsprosesse afgehandel is voordat hulle begin om die land van die wat dit besit oor te dra aan die wat daarop aanspraak maak nie.

“In die een asem verwys hy na mense as die eienaars van grond, maar in die volgende asem insinueer hy dat boere die land gesteel het en dit dus sonder vergoeding moet teruggee,” sê mnr. Geldenhuys. “Geen boer het op enige wyse sy of haar grond onregmatig bekom nie. Elke duim daarvan is binne die bestel en op ‘n wettige wyse bekom.

“TLU SA het in dié verband reeds etlike jare gelede ‘n beloning van R100 000 aangebied vir enige persoon wat kan bewys dat ‘n TLU SA-lid die grond wat hulle besit, gesteel het.  Nodeloos om te sê lê die geld nog veilig in ons bankrekening.”

TLU SA is uiters bekommerd oor waarheen die onverantwoordelike verwagtinge wat die ANC onder hulle ondersteuners skep gaan lei en wat ondeurdagte uitsprake aan beleggersvertroue doen.

“Die enigste nalatenskap wat die ANC tot dusver nalaat is een van ‘n regering wat afbreek en die toekoms vernietig,” eindig mnr. Geldenhuys.

 

Uitgereik deur:          TLU SA

Datum:                       19 Maart 2021

Navrae:                       Mnr Henry Geldenhuys, President TLU SA,

                                    Sel.: 083 560 1273

Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,

                                    Sel.: 082 466 4470

Sluit aan

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons