TLU SA het ‘n baanbrekerstap geneem om volhoubare voedselsekerheid en -produksie in die bestek van die TLU SA-mandaat teweeg te bring, deur die gebruik van die moderne tegnologie van die Vierde Industriële Rewolusie (ook bekend as 4IR of Industry 4.0).

‘n Samewerkingsooreenkoms met IQ Logistica beloof uitkomste in makliker marktoegang, bestuursvermoë en samewerking. Dié maatskappy het ‘n naspeurbaarheidsplatform ontwikkel wat onder andere primêre landbouproduksie, verwerking, logistiek en transaksies fasiliteer tot by die eindverbruiker. Die werksaamhede van rolspelers in die waardeketting sal effektief vanuit ‘n geïntegreerde inligtingsbestuur perspektief herontwerp word.

“TLU SA het met groot opgewondenheid verneem hoe die katoenbedryf dramaties as gevolg van dinamiese inligtingsbestuur jaar-op-jaar gegroei, verbeter en versterk het,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “IQ Logistica het sedert 2014 ‘n merkwaardige bydrae gemaak tot die katoen-waardeketting in Suid-Afrika. Die tegnologie werk baie goed, soos bewys met die sigbare resultate in die katoenbedryf.”

TLU SA en IQ Logistica sal voortaan saam werk aan die stelselmatige uitbreiding van die sake-intelligensie-, naspeurbaarheid- en handelsplatform na waardekettings waarin TLU SA-lede rolspelers is, hoewel toegang tot die platform en die voordele daarvan beskikbaar sal wees aan alle rolspelers en belanghebbendes.

Die skaal waarop die projek aangepak word vereis noodwendig samesprekings met belanghebbendes, vir welke rede TLU SA ‘n kommunikasieplan sal daarstel en fasiliteer waaruit insette verkry en verwerk sal word.

“Lede word aangemoedig om aktief deel te neem aan die uitdagende, maar konstruktiewe groeiproses wat vir ons voorlê,” sê mnr. Meintjes.

Meer inligting oor die vordering en vooruitsigte van die projek sal deurgaans versprei word.