Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

TLU SA is uiters bekommerd oor die styging in plaasaanvalle wat die naweek weer gelei het tot vyf moorde en moedig boere, gesinne en werkers ernstig aan om te alle tye paraat te wees.

“Die naweek se nege aanvalle het ons waarneming dat die merkbare daling van geweldsmisdade op plase en hoewes gedurende die eerste paar weke van die inperking kortstondig was, bevestig,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die voorsitter van TLU SA se Veiligheidskomitee en adjunk-president van TLU SA. “Die eerste ses maande van 2020 is bykans ‘n spieëlbeeld van die situasie gedurende dieselfde periode in 2019.”

Afgesien van stygende misdaad het die inperking ook gelei tot komplikasies wanneer polisiestasies as gevolg van COVID-19 besmettings tydelik moes sluit. Die publiek is dikwels nie bewus van alternatiewe kontaknommers vir SAPD-lede by hierdie stasies nie en is dan aan hulself oorgelaat tydens aanvalle.

“TLU SA het lankal reeds besef dat landbouers nie op die regering kan staatmaak vir beveiliging nie,” sê mnr. Geldenhuys. “Plaasbewoners moet toenemend hulle eie vermoëns en kapasiteit inspan om veiligheid te verseker. Die oplossing lê in persoonlike paraatheid.”

Uit die terugvoer na onsuksesvolle aanvalle is dit duidelik dat slagoffers wat ‘n hoë vlak van paraatheid handhaaf – met ‘n vuurwapen byderhand – effektief die aanval kon afweer. In dieselfde trant is die reaksie van ‘n goed georganiseerde Plaaswag wat bestaan uit lede wat die omgewing en inwoners goed ken, van onskatbare waarde wanneer die reaksietyd en effektiewe optrede van die plaaslike polisie beperk is.

Veiligheid begin by die individuele boer, daarna die gesin en werkers en vloei oor na die bure, Plaaswag en polisie. Dit is belangrik om voorbereid te wees deur die volgende te doen:

  • Hou ‘n selfverdedingsvuurwapen byderhand;
  • Gebeurlikheidsbeplanning moet in plek wees; en
  • Maak seker die kommunikasievermoë van ‘n plaas af, is gevestig.

TLU SA doen ‘n dringende beroep op boere om by die plaaslike veiligheidstrukture in te skakel en te alle tye paraat te wees.

 

Uitgereik deur:          TLU SA

Datum:                       29 Julie 2020

Navrae:                       Mnr Henry Geldenhuys, Adjunk-President TLU SA,

                                    Sel.: 083 560 1273

Genl. Maj Chris van Zyl (aft), Adjunk-Hoofbestuurder TLU SA,

                                    Sel.: 072 716 9299

Sluit aan

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons