Dit is vir TLU SA duidelik dat die Suid-Afrikaanse regering onbekwaam of onwillig is om die land se inwoners te beskerm. Daarom gaan TLU SA wetgewing ondersteun wat Suid-Afrikaners die basiese geleentheid gun om vir hulle eie veiligheid en sekuriteit te sorg.
“Ons sien die regering se onvermoë om ons te beskerm in elke deel van die samelewing,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Suid-Afrikaners is onveilig by die huis, by die werk, in die strate, met vakansie, in die stad, in dorpe, op die platteland en op plase.
“Die meerderheid Suid-Afrikaners leef in vrees en kwesbare groepe soos boere byt die spit die ergste af. Boere is in die spreekwoordelike voorste linie in die oorlog teen misdaad in Suid-Afrika.”
TLU SA sal binnekort ‘n voorstel indien wat beleide so sal verander dat alle veiligheid- en sekuriteitsuitgawes geheel teen belasting verhaal kan word. TLU SA eis ook dat alle misdaadbestryding in so mate verbeter word dat Suid-Afrikaners werklik op enige plek in die land veilig sal wees, en indien die regering dit nie self kan uitvoer nie, moet die taak onder die bestuur van die regering verwyder word.
“Ons doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners wat keelvol is vir die regering se onvermoë om na ons veiligheid om te sien, om hierdie projek te ondersteun,” sê mnr. Geldenhuys. “Die landgenote wat nie ons verknorsing verstaan nie, moet wakker skrik. Dié oorsee wat blind is vir die feite as ‘n direkte gevolg van die regering se internasionale propoganda, moet kennis neem. Dit is nou tyd dat ons onsself beskerm.”
Suid-Afrikaners kan die aksie en komende voorgestelde wetswysigings ondersteun deur die volgende skakel te volg: https://onsstaansaam.co.za/
Uitgereik deur: TLU SA
Datum: 10 Oktober 2020
Navrae: Mnr Henry Geldenhuys, President TLU SA,
Sel.: 083 560 1273
Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,
Sel.: 082 466 4470