Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

TLU SA ondersteun die algehele inperking van 21 dae wat pas deur President Cyril Ramaphosa aangekondig is. Dit is in die belang van Suid-Afrika.
 
“Ons is verheug dat die president veral in hierdie tyd die belangrike rol van die kommersiële boer om voedselsekerheid en -lewering te verseker, erken,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die totale landbou-waardeketting hierby ingesluit moet word. Die boer kan nie sy produkte by afsetpunte kry indien onderdele en brandstof nie ook beskikbaar is nie.”
 
TLU SA het verlede week ingestem om deel te wees van die verskillende departementele taakgroepe wat landbou moet beskerm. Dit is te verstane dat daar na die aankondiging nuwe kwessies oor die dag-tot-dag bestuur daarvan is, wat deeglik deurgetrap moet word. TLU SA sal hierdie onsekerhede in die taakgroepe bespreek en dienooreenkomstig aan lede terugvoer gee.
 
“Ons sal aan die minister voorstel dat lede van georganiseerde landbou-organisasies ‘n vrywaringsertifikaat ontvang om onverpoos voort te gaan om te produseer,” sê hy. “TLU SA is ook besig om te werk aan alternatiewe planne sodat boere binne die beperkinge kan voortgaan om hulle produkte tot by die verbruiker te kry.”
 
Intussen is dit belangrik dat boere hulle werkers op hoogte hou van verwikkelinge en bydra om die verspreiding van die COVID-19 pandemie te beperk.