Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

TLU SA oorweeg nou regsaksie om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te dwing om bevredigende antwoorde te verskaf oor die vervolging van die leier van Black First Land First (BLF), Andile Mngxitama.

Meer as ‘n jaar nadat Mngxitama gedreig en sy volgelinge opgestook het om wit vroue en kinders dood te maak, kan die NVG steeds nie ‘n aanduiding gee of hy hieroor vervolg gaan word nie.

Mngxitama het in Desember 2018 in Potchefstroom, Noordwes tydens ‘n openbare byeenkoms voor ‘n groot gehoor gedreig om vyf wit mense dood te maak vir elke een swart persoon wat doodgemaak word. Hy het voortgegaan om vroue en kinders te dreig: “We will kill their children, we will kill their women, we will kill anything we find on our way”.

TLU SA het op 11 Desember 2018 ‘n klag van haatspraak teen Mngxitama by die polisie gelê. Sedertdien het TLU SA herhaaldelik navraag gedoen oor die vordering van die saak, en duisende mense het ook hulle name gevoeg by TLU SA se petisie hieroor.

“Uit die mees onlangse skrywe aan die NVG in November, is dit duidelik dat daar steeds geen uitsluitsel is oor wat met die saak aangaan, of selfs wie dit hanteer nie,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “In terme van die Nasionale Vervolgingsgesagwet lê die mag om regsaksies namens die staat in te stel en te onderneem, by die Nasionale Vervolgingsgesag. Die staat moet Suid-Afrikaners beskerm teen misdaad, maar faal keer op keer. Dit is hoogs kommerwekkend en skep die idee dat wetsoortreders kan doen wat hulle wil sonder enige gevolge.

“Die werkswyse van die NVG is ‘n skreiende skande en toon die NVG se disrespek vir klaers. Die minste wat die Vervolginggesag kan doen is om klaers se navrae na behore te antwoord, maar selfs dit gebeur nie.”