James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA reaksie op vloede en skenkings

TLU SA neem met skok kennis van die geweldige verliese wat die vloede in die land, maar in besonder in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, veroorsaak het.

“Daar is van die verliese wat nooit verhaal sal kan word nie,” het mnr. Mauritz Lombard, TLU SA Bestuurder: Beleidskakeling gesê.

“Die skade aan privaateiendom en infrastruktuur sal ’n invloed op die hele land hê. TLU SA betuig medelye teenoor naasbestaandes wat familie en vriende verloor het. Daarmee saam wens ons almal wat betrokke is by die herstel van bedrywighede en infrastruktuur sterkte toe vir dié belangrike taak.”

TLU SA het ook sy hoop uitgespreek dat bedrywighede hervat en infrastruktuur spoedig herstel sal word.

“Dit is van kardinale belang dat dit met deursigtigheid sal geskied waar prioriteite toegeken moet word, soos byvoorbeeld by herstel van paaie. Waar regeringshulp toegeken word, is die beheer oor fondse van uiterse belang. Geen korrupsie mag plaasvind nie en die regering moet alles in plek sit om korrupsie te verhoed. Mense wat familie-lede verloor het en dié wat skade gely het, kan nie nog onder korrupsie ook gebuk gaan nie. Die volle voordele moet hulle toekom,” het mnr. Lombard benadruk.

TLU SA moedig die wat wil help aan om fondse of benodighede aan dié te gee wat kan wys wat daarmee gemaak word, om te verseker geen onreëlmatighede vind plaas nie en dat die fondse en benodighede gaan waar dit nodig is.

Die wat ’n behoefte het om te help kan Solidariteit se Krisisfonds-blad besoek https://sluitaan.co.za om donasie spesifiek aan KZN te maak. Solidariteit Helpende Hand bestuur die fondse.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA reaksie op vloede en skenkings