Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Dit is vir TLU SA verblydend om te sien dat die Minister van Finansies, mnr. Tito Mboweni met die min beweegruimte wat hy tot sy beskikking het, tog daarin kon slaag om sekere positiewe seine uit te stuur tydens die Begrotingsrede.
 
Hy het te kenne gegee dat die toename in staatsbesoldiging, korrupsie en die vermorsing van staatsfondse ‘n prioriteit is wat onder beheer gebring moet word om by die punt te kom waar die staat eerder kundiges kan aanstel.
 
“Ons is ingenome dat die minister ernstig aandag gee om die uitgawekolom van die begroting in balans met die inkomstekolom te bring,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Maar ons sal egter moet kyk hoe dit in praktyk gaan materialiseer.
 
“Daar moet deurentyd in konteks na die aankondigings gekyk word. Suid-Afrika is steeds vasgevang in ‘n onsekere beleidsomgewing wat nie ekonomiese groei kan waarborg nie. Kwessies soos onteiening sonder vergoeding en die negering van kundigheid ten gunste van die regering se transformasiebeleid, is sprekende voorbeelde.”
 
Die fokus op infrastruktuur-ontwikkeling met ‘n toewysing van R10miljard oor drie jaar is verblydend. Dit is ook goed om te sien dat die regering dit ‘n prioriteit maak om ‘n stabiele elektrisiteitstoevoer te verseker deur die sektor te herstruktureer. Daar moet streng voorwaardes aan die verdere finansiële ondersteuning gekoppel word.
 
“Die voorwaardes moet verseker dat die belastingbetaler se geld nie voortdurend in ‘n bodemlose put – soos in die geval van SAL en ander staatsbeheerde entiteite – gegooi word nie,” sê mnr. Meintjes. “Hoewel SAL nou onder administrasie geplaas is, is die doel steeds om die lugredery radikaal te herstruktureer. Ons is nie oortuig dat die kundigheid en doeltreffendheid wat hierdie verandering teweeg moet bring, wel daar is nie. Dit kan dalk net mnr. Mboweni se planne vir ‘n wen in die wiele ry.”
 
Die verhoging van 25 sent per liter in die brandstofheffing is vir TLU SA-lede – die landboubedryf – altyd ‘n slag. Dit sal vanselfsprekend ook ‘n groot invloed op die ekonomie hê.
 
“TLU SA is wel tevrede dat daar R495miljoen bewillig is om beter te voldoen aan biosekuriteitsmaatreëls en uitvoere, veral gesien in die lig van die katastrofiese gevolge van bek-en-klouseer uitbrake,” sê mnr. Meintjes. “Ons is egter bekommerd dat daar slegs R500miljoen geoormerk is om grondeise af te handel. Dit wys baie duidelik dat die regering nie oorweeg om onteiening met vergoeding deur te voer nie.
 
“Dié groot rooi lig sal verdere onsekerheid en ‘n negatiewe invloed op beleggersvertroue skyn.”
 
In die lig van die hoë bedrae aan en klem op onderwys wil TLU SA ‘n beroep op die regering doen om streng op te tree teen studente wat met gewelddadige optrede die infrastruktuur beskadig. Skuldiges moet summier die voorreg om te studeer, ontsê word.
 
Die polisie moet ook ferm optree teen enige persone, maar spesifiek vakbondwerkers, wat met plundering hulle sin probeer kry ten koste van die land.