Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

TLU SA is teleurgesteld en hoogs ontevrede dat die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, me. Thoko Didiza nie optree teen die ooglopende korrupsie in haar departement nie.

TLU SA het vroeër vanjaar aan die minister en waarnemende direkteur-generaal, me. Rendani Sadiki geskryf oor verdagte besteding rakende 600 000 gesigmaskers en 400 000 koekies seep wat die departement teen ‘n bedrag van R20 miljoen aangekoop het. Volgens eenvoudige berekeninge het iemand ongeveer R10 miljoen uit die transaksie in hulle sak gesteek. TLU SA het met die skrywe versoek dat die departement ‘n onafhanklike forensiese oudit aanvra om die betalings te ondersoek.

“Ons het tot dusver nog nie eers ‘n erkenning van ontvangs van die skrywe ontvang nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Wat moet ons hieruit aflei? Dat die departement nie belangstel om met landbou-organisasies te praat nie of dat die departement korrupsie goedkeur?”

Die ongerymdhede is waarskynlik ‘n druppel in die emmer van die grootskaalse korrupsie wat tydens COVID-19 deur persone in posisies van gesag in die regering gepleeg is, maar TLU SA wil weereens versoek dat die landboudepartement die voortou neem deur dit aan te spreek. As die politieke hoof van die departement moet die minister verantwoordelikheid neem vir die optrede van haar personeel.

“Ons, die wetsgehoorsame belastingbetalers van die land, sal nie voortgaan om korrupsie te befonds nie,” sê mnr. Geldenhuys. “Indien die persone wat verantwoordelik is om die land te regeer swyg oor korrupsie en geen aksie neem om dit hok te slaan nie moet die burgers van die land ernstig kennis neem.

“Waarheen is Suid-Afrika met die ANC se beleidsrigting en kondonering van korrupsie op pad? Wat sal uiteindelik oorbly? Dit is onaanvaarbaar en optrede moet dringend geneem word om die koers te verander.”

 

Uitgereik deur:          TLU SA

Datum:                       5 Maart 2021

Navrae:                       Mnr Henry Geldenhuys, President TLU SA,

                                    Sel.: 083 560 1273

Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,

                                    Sel.: 082 466 4470

Sluit aan

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons