“TLU SA verwag dat die president weer sy ondersteuners met mooi beloftetjies sal probeer oortuig dat die ANC vir ʼn beter lewe sorg. Hierdie beloftes word gelukkig al hoe moeiliker vir soetkoek opgeëet, veral as die markte daagliks swart op wit wys hoe ANC-beleid alle Suid-Afrikaners verraai,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Cyril Ramaphosa sal na verwagting Donderdag 9 Februarie sy staatsrede aan die wêreld voorhou. Die omstandighede in die land lok nou die vraag by baie uit of die ANC hierdie keer die land se inwoners voorop sal stel, of maar net weer met leë beloftes vir die ANC se voortbestaan gaan baklei. “Dieselfde beloftes en onpraktiese drome maak ʼn staatsrede waardeloos; ʼn tipiese Ramafantasie. Die Poskantoor, Denel, SAL en Eskom was in 1994 nog funksioneel. Dis juis die ANC se beleid en ‘rigtinggewende’ staatsredes wat hierdie instellings oor byna 30 jaar vernietig het,” gaan Van Zyl voort.
Jaco Schoeman, TLU SA se voorsitter van die eiendomsregkomitee, beklemtoon die regering se gebrek aan verantwoordelikheid. “Die ANC skep weens ʼn gebrek aan prestasie sy eie probleme en wil dan soos die groot held lyk as hulle hierdie probleme probeer oplos; gewoonlik onsuksesvol. Die oorweging om ʼn ramptoestand te verklaar weens beurtkrag is weereens ʼn uitstekende voorbeeld hiervan. Hoe gaan dit die probleem oplos?”
Van Zyl verwys na kommerwekkende werkloosheidsyfers en dat slegs die privaatsektor hierdie situasie met winsgewende besighede kan verbeter. Hy verwag dat onteiening sonder vergoeding weer ʼn punt op die agenda sal wees omdat dit vir nog ANC-kruisies sal sorg. “Dit plaas sogenaamde ‘ekonomiese stimulasie’ net onder die verkeerde soort druk en beïnvloed die vertroue van beleggers baie negatief.
“ʼn Totale ander beleidsrigting sal ingeslaan moet word om Suid-Afrika te red. Ons weet ook ongelukkig dat dit nie gaan gebeur nie. Dit is tyd dat Ramaphosa moet besef dat brood wat met ideologie-stroop gesmeer word, geen mense kan voed nie. Mense kan nét gevoed word wanneer voedsel suksesvol deur ʼn landbousektor geproduseer word binne ʼn ekonomie waar verbruikers ʼn inkomste verdien en geld het om kos te kan koop. Sosiale toelae is geen volhoubare oplossing hiervoor nie. Diegene wat daarvoor moet opdok, raak vuisvoos en vat die pad, omdat hulle belastinggeld basies direk aan misdaadsindikate oorgegee word.”
TLU SA sê dat Ramaphosa se staatsrede op die volgende moet fokus:
- Bewerkstellig vertroue in die ekonomiese omgewing.
- Skep ʼn beleidsomgewing en infrastruktuur waarbinne entrepreneurs graag besigheid wil doen.
- Dereguleer energievoorsiening sodat die privaatsektor die situasie met kundigheid kan beredder.
- Staak swart ekonomiese bemagtiging en fokus op ekonomiese bemagtiging, wat alle Suid-Afrikaners insluit. Skep geleenthede vir almal wat bereid is om die verantwoordelikheid te aanvaar wat met hierdie geleenthede gepaard gaan. Dit is wat bemagtiging beteken; ʼn wen-wen situasie vir beide verantwoordelike benutters van geleenthede, asook vir die ekonomie van Suid-Afrika.
- Die permanente staking van kaderontplooiing (wat sinoniem is met korrupsie), en nie net tydens die jaarlikse staatsrede waarna dit steeds lustig voortstu nie.
- Los misdaad op deur eerstens misdaad-elemente uit die SAPD te verwyder sodat vertroue in hulle kan herstel en ons ʼn veilige land kan hê.
- Stel bevoegde ministers aan.
- Leer wat “aanspreeklikheid” beteken en pas dit toe. Ministers moet verantwoordelikheid vir hul onderskeie departemente neem sodat hulle koppe ook kan rol wanneer korrupsie voortgaan.
TLU SA rig vandag ʼn brief aan president Ramaphosa waarin hierdie punte uiteengesit word.








