Eintlik is dit nie reg om net in Augustus gedurende Vrouemaand die rol van vroue te vier nie. Maar aangesien die deugde van vroue in Augustus besing word het TLU SA besluit om ook hier eer te bring aan ons skoner geslag.
In die Bybel (die 2020-vertaling), in Spreuke 31:10, word die deugde van ’n vrou besing: “’n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde.”
TLU SA wil erkenning aan vroue in die landboubedryf gee wat in verskillende rolle ’n bydrae lewer. Die belangrikste doel van landbou in Suid-Afrika is om kos vir almal te produseer. Dit help onder meer om stabiliteit te bewerkstellig. As daar nie genoeg kos vir almal is nie, sal dit ’n onbeheerbare chaos skep.
Oor die wêreld heen is daar ’n groot probleem om genoeg en gesonde kos by alle verbruikers uit te bring. ’n Gebalanseerde dieet is ’n belangrike basis vir voldoende liggaamlike en verstandelike ontwikkeling. Dit is oor kultuurgrense heen grootliks ma’s wat beskikbare kos berei en toesien dat die nodige balans in hul gesin se dieet gehandhaaf word.
Die vrou is gewoonlik ook die anker in die gesin wat waardes aan die volgende geslagte oordra en dien as die sement wat gesinne en families bymekaar hou.
Die belangrikste rolspelers in die landbouwaardeketting is primêre produsente en die verbruikers wat die landbouprodukte aankoop. Vroue speel in al twee gevalle ’n beduidende rol, hetsy om die produksieproses te help rig as hulle self boer, of om hul mans in verskeie hoedanighede op die plaas by te staan, of deur te help dat in die vraag na voedsel in die markomgewing voorsien word.
Behalwe vir vroue op plase, is daar kundige vroue op verskeie plekke in die waardeketting van die landboubedryf. Vroue in vele beroepe en instellings speel ook ’n wesenlike ondersteunende rol wat tot ’n suksesvolle landbou-omgewing bydra. Van navorsers en veeartse tot vroue in administratiewe poste, soos sekretaresses en finansiële beamptes, asook verteenwoordigers en landboujoernaliste – almal is belangrik.
Ons het by ’n paar vroue in landbou gaan hoor wat die rol van vrouwees vir hulle beteken.
“Vrouwees beteken sagtheid, liefde, omgee, daar wees vir familie en vriende – maar ek laat niemand toe om oor my te loop nie. Om te wees wat jy wil wees en nie wat ander van jou verwag nie.” – Lynette du Plessis, streekbestuurder van TLU SA
“My vroulikheid het my deur die jare groot mag gegee deur my te leer om te baklei vir die dinge wat ek wil hê, weg te stap wanneer ek nie waardeer word nie en om deernis vir ander te hê. Ek is dankbaar vir al die vroue en mans, veral my man, wat vir my die weg gebaan het om ‘lief te wees vir wie ek is’, en ’n goeie vrou, ma en joernalis te wees. Ek besef dat die dinge wat ek vermag het, ’n paar generasies gelede nie moontlik sou gewees het nie.” – Glenneis Kriel, senior joernalis, Farmer’s Weekly
“Die vrou in landbou staan met haar een voet in die nou, om te voorsien en te versorg, en met die ander voet in die môre, waar sy – ter wille van haar kinders en haar kinders se kinders – op die volhoubaarheid van die planeet en sy hulpbronne fokus.” – Hanlie du Plessis, joernalis, AgriConnect
“Die titel van vrouwees beteken vir my dat ek alles kan doen wat almal anders kan doen, maar met ’n tikkie sagtheid, deur die mense om my te dien, die gom te wees wat almal saambind, maar ook met my intuïsie dinge raak te sien en ’n ander perspektief op die lewe te plaas.” – Suzanne Paxton, vervaardiger en aanbieder van RSG-aktualiteitsprogramme
“Vrouwees beteken vir my om jou stem te laat hoor, jou opinie te laat geld en geleenthede wat na jou kant toe kom met albei hande aan te gryp, en ‘n sukses daarvan te maak. Ons is sterk, magtig en uniek. Ek glo dat vroue vandag ‘n reuse rol in die wêreld en samelewing speel. Vroue is die gom van die samelewing. Proe die lewe, moet dit nie net haastig afsluk nie, leef aandagtig en wees verseker jy maak ‘n impak en ‘n verskil waar jy gaan.” – Bianca Henning, Besturende Redakteur van ProAgri
“Vir my is vrouwees die ontsluiting van potensiaal met die ondersteuning van die susters, ma’s, vriendinne, kollegas, tannies en oumas wat elke dag op soveel onsigbare maniere mekaar se harte en hande sterk maak. Wat mekaar laat glo dat enigiets moontlik is. Vrouwees is vir my ʼn voorreg; nie ʼn verpligting of ʼn vereiste nie. En ek dra daardie vrouwees – saam met elke ander vrou – met vreugde.” Christel Cornelissen, Senior Joernalis, Maroela Media.
“Vrou-wees is belangrik om verskeie redes, en dit is ook belangrik om erkenning te gee aan die unieke bydraes en ervarings wat vroue tot die samelewing bring. ‘n Paar aspekte wat die belangrikheid beklemtoon van vrou-wees is:
1. Bemagtiging
2. Diversiteit
3. Leierskap en besluitneming
4. Gesondheid en welstand
5. Rolmodelle
6. Sosiale en Emosionele Intelligensie
7. Selfuitdrukking en kreatiwiteit
Ons kan werk aan ’n meer regverdige en inklusiewe wêreld vir almal, deur die belangrikheid daarvan om ’n vrou te wees te waardeer en te aanvaar.” Wilma Prinsloo, TLU SA Noord
Ons kan vandag aan die vroue van die samelewing hulde bring vir die rol wat hulle in die produksie en verspreiding van voedsel speel, maar ook vir die rol wat hulle as die opvoeders van volgende geslagte speel.
Natuurlik is die psige en die besluitnemingsvermoë van die vrou iets waaroor daar deurentyd wyd bespiegel en gespot word. Om die vrou te verstaan, word beweer, is buite die denkraamwerk van die man, maar terselfdertyd word erken dat die man nie sonder die vrou kan funksioneer nie. AG Visser het dit treffend in ’n gedig vasgelê:
Die vrou is die sout van die aarde,
Die suurdeeg, beskou op die keper:
Al hoër steeds rys sy in waarde:
Sy’s beide sout en … die peper!
Wie ter wêreld verstaan ooit die vrou,
En wie sal haar geheimenisse weet?
Haar verjaarsdae moet jy onthou,
Maar haar ouderdom moet jy vergeet!
TLU SA eer ons vroue vir daardie rol wat julle speel. Julle kry nie naastenby genoeg waardering nie.





