Daar is min beroepe wat soveel van ’n mens vra soos boerdery. Dis nie net ’n werk nie, dis ’n leefwyse, ’n roeping en dikwels ’n gesinsverhaal wat oor generasies strek. Binne dié verhaal staan die vrou dikwels as die stil pilaar wat alles bymekaar hou. Sy is die boer se vennoot, die moeder, die bestuurder, die ondersteuner, en in baie gevalle ook die boer self. Haar rol in die landbou is nie meer beperk tot die huis of die kombuis nie; sy is vandag ewe veel deel van die plaas se strategiese besluite, die finansiële bestuur, die bemarking en selfs die wetenskaplike navorsing wat die toekoms van voedselproduksie bepaal. Die familieboerderye is die anker vir ‘n lewendige platteland en die vrou se rol daarbinne is van kardinale belang.
Wanneer ’n mens oor vroue in landbou praat, sien jy nie net een prentjie nie. Jy sien die boervrou wat soggens voor sonsopkom die kinders gereed maak vir skool, middagete inpak, en dan in die plaaswinkel of kantoor inklim om bestellings te hanteer, fakture uit te reik of die boerdery se finansies te bestuur. Jy sien die vrou wat langs haar man in die bakkie ry, saam besluit watter projek volgende aan gewerk moet word, en saans by die kombuistafel nog die week se kontantvloei op ’n Excel-spreiblad probeer balanseer.
In baie gevalle sien jy ook die vrou wat self die alleen-boer is. Sy staan tussen haar diere of op haar landerye, nie as ’n “boervrou” nie, maar eenvoudig as ’n boer, met dieselfde uitdagings, risiko’s en verantwoordelikhede as enige ander produsent. Hierdie vroue beklemtoon dat die aard van die landbouer gesetel is in diegene met karakter, visie en durf. Inderdaad diegene wat die verantwoordelikheid aanvaar van wat dit verg om boer te wees.
Tog is daar ’n dieper waarheid wat nie op balansstate of kontantvloeistate verskyn nie: die rol wat vroue speel om die hart van die landbou aan die klop te hou. In ’n wêreld waar droogtes, markonstabiliteit en politieke onsekerheid dikwels ’n mens moedeloos kan maak, is dit dikwels die vrou wat hoop en stabiliteit bring. Sy hou die gesin bymekaar, sorg dat kinders hul skoolaktiwiteite en sportgeleenthede kan bywoon en hou die huis ’n plek van warmte te midde van spanning. Selfs in die gemeenskappe is dit die vrou wat die kultuurlewe aan die gang hou in hul meelewing en betrokkenheid by organisasies soos die SAVLU.
Die boerdery se sukses lê dikwels nie net in sy produksiesyfers nie, maar in die gesondheid van sy mense en dáár speel die vrou ’n bepalende rol.
Wat soms oor die hoof gesien word, is die rol van vroue in die waardeketting van landbou. Baie vroue dryf hul eie ondernemings binne of langs die boerdery: verwerking van produkte, bemarking van plaaslike kos, administratiewe dienste, of selfs kommunikasie en navorsing wat die boerdery se beeld na buite dra. Hulle is dikwels die kreatiewe skakels wat nuwe markte vind en ’n menslike gesig aan landbou gee.
As navorsers en akademici lewer vroue deurslaggewende bydraes tot voedselveiligheid, genetiese verbetering en volhoubare praktyke. In bemarking en kommunikasie help hulle om die afstand tussen produsent en verbruiker te verklein, ’n onmisbare rol in ’n tyd waar mense al hoe meer vra: “Waar kom my kos vandaan?”
Landbouvroue is dus nie bloot ondersteuners van die bedryf nie; hulle dra dit.
Spreuke 31 beskryf ’n vrou as “meer kosbaar as korale”. Dié beskrywing het deur eeue heen sy glans behou, nie omdat dit romanties is nie, maar omdat dit werklik is. Die vrou in landbou is die voorbeeld van wysheid, arbeidsaamheid en toewyding. Sy sien geleenthede waar ander probleme sien; sy staan op wanneer ander moed opgee; sy werk nie vir eer of lof nie, maar omdat sy weet haar bydrae maak ’n verskil.
Ons erken dikwels die boer se harde werk, die opofferings en die toewyding wat dit verg om voedsel te produseer. Dalk is dit tyd dat ons net so hardop erken: agter elke suksesvolle plaas, elke volhoubare boerdery en elke nuwe generasie wat die plaas oorneem, staan daar ’n vrou, of soms voor.
Sy is die draer van die gesin, die beplanner van die huishouding, die strateeg in die onderneming en die bewaker van hoop. Haar rol is nie bykomstig nie, dit is fundamenteel. By moedersknie word die verankering deur die eeue gedoen in daardie lewenswaardes wat elke jongmens met ‘n suiwer begronding ‘n vaste hoop gee op hul toekomspad.
Wanneer ons oor die toekoms van landbou praat, moet ons die gesprek nie sonder haar voer nie. Die vrou se stem, haar insig en haar vaardigheid is onmisbaar as ons volhoubare groei, gesonde gemeenskappe en voedselsekerheid wil verseker.
Die vrou in landbou is nie bloot deel van die storie nie, sy ís in baie gevalle dié storie!
Hierdie meningstuk het op 14 November 2025 in Pretoria FM se e-koerant, Nuusweek, verskyn.

