Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier
Woorde wek, maar voorbeelde trek, Mnr. Ramaphosa Donderdag | 13 Februarie | 2020

TLU SA is steeds nie oortuig dat die beloftes wat President Cyril Ramaphosa tydens sy Staatsrede 2020 – toe hy uiteindelik ‘n spreekbeurt gekry het – gemaak het, wel tot die voordeel van die land is, of selfs deurgevoer kan word nie.

“Suid-Afrika is vasgevang in die ANC, SAKP en Cosatu se ideologiese net wat oor tyd ‘n bepaalde beleidsomgewing geskep het waarmee alles moontlik gedoen is om die ekonomie te skaad,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Die ANC se blaf raak nou uitgedien en indien hulle byt nie gekoppel is aan kundigheidsbenutting sowel as die etiese implementering daarvan nie sal sake maar net op die korrupte manier aankarring.”

Aan die een kant het Pres. Ramaphosa wonderlike planne om sosio-ekonomiese probleme op te los met ‘slimstede’, maar aan die ander kant sit ons steeds met ‘n werkloosheidsyfer van 50% onder jongmense. Mense wat in armoede gedompel word omdat die ANC se vakbondvennote daarop aandring om mense eerder werkloos te laat as om hulle die geleentheid te gee om self oor hulle lone te onderhandel.

“Die oplossing is nie om net meer opleiding te verskaf en entrepreneursprogramme aan te bied nie,” sê mnr. Meintjes. “Indien daar geen beleggers in die land is nie, is daar geen werk nie. Indien arbeidswegewing dit onmoontlik maak om ‘n besigheid op die been te bring sonder om korrupte bande met die regte mense te hê, is daar geen werk nie. Indien besighede dit nie kan bekostig om mense in diens te neem nie, is daar nie werk nie.”

Die oplossing is om te belê in bestaande kundigheid en die oordrag daarvan.

“Daar is deurlopend verskeie instansies en individue wat oor besonderse kundigheid en ervaring beskik wat na vore tree en aanbied om te help om Suid-Afrika weer op koers te kry,” sê mnr. Meintjes. “Hierdie hulp sal lei tot ekonomiese groei wat uiteindelik sal bydra om werkloosheid en armoede te bekamp. Maar dit blyk of die ANC eerder verkies om die land ekonomies heeltemal te sink met geykte retoriek.”

Die regering erken dat landbou een van die belangrikste bedrywe in die land is. Maar, dit is belaglik om in een sin te sê dat grondhervorming (deur onteiening sonder vergoeding) versnel sal word EN dat landbouproduksie verhoog sal word. Dit kan nie beide wees nie mnr. Ramaphosa. Miskien het die ANC reeds self te veel van die hemp-produkte wat landbou glo gaan versterk, getoets.

“Ons is dankbaar oor strategieë om rampe soos droogte teen te staan,” sê mnr. Meintjes. “Maar, gaan dit weer net by sekere boere uitkom, soos wat gebeur met droogtehulp? Gaan dit weer te laat by boere uitkom, sodat diere en werkers van honger vergaan?”

Die koers wat die ANC inslaan is gedoem tot ekonomiese mislukking. Alvorens die ANC homself nie verbind tot daardie ekonomiese beginsels wat wêreldwyd bewys het dit groei bring nie is die Staatsrede en wat die ANC daarna gaan doen van geen waarde vir Suid-Afrika en sy inwoners nie.

“Woorde wek, maar voorbeelde trek, mnr. Ramaphosa.”

Sluit aan

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons