James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

5 760 moorde in drie maande waansin, sê TLU SA

Deur die inperking te gebruik om die toename in misdaad te probeer verbloem lei niemand in Suid-Afrika om die bos nie.

Die minister van polisie, mnr. Bheki Cele het vandag die misdaadstatistiek vir die eerste kwartaal van die 2021/2022-tydperk* bekend gemaak. Hy het herhaaldelik beklemtoon dat die dubbelsyfer-styging nie ‘n ware weerspieëling van die toename van misdaad is nie omdat die COVID-19 pandemie die syfers skeef trek.

“Slim woorde verander nie die feit dat 5 760 mense in drie maande in Suid-Afrika vermoor is nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Waar op aarde is dit aanvaarbaar dat 2,7 mense per uur doodgemaak word? Dit is waansinnig.”

Dit is verder uiters kommerwekkend dat die Suid-Afrikaanse polisie die afgelope twee jaar geen nuwe rekrute kon aanstel nie terwyl ervare lede op strepe aftree. Dit laat Suid-Afrikaners, en veral boere op afgeleë plase, baie kwesbaar in ‘n land waar misdaad seëvier.

“Dit is onaanvaarbaar dat die polisie se begroting besnoei word – en die res aan wanbesteding en korrupsie verloor word – terwyl misdaad een van die knelpunte in die land is,” sê mnr. Geldenhuys. “Dit is ook vir ons nie genoeg dat Minister Cele sê die herstruktureringsprogram vorder goed nie. Kry effektiewe planne in plek, en gebruik die beskikbare fondse effektief om misdaad te bestry.”

TLU SA doen weer ‘n beroep op Pres. Ramaphosa om die polisie-departement van wanbestuur en korrupsie te suiwer deur (vir ‘n begin) van Minister Cele ontslae te raak. Steun gerus TLU SA se veldtog hieroor by hierdie skakel: https://www.tlu.co.za/tsamaea-cele/

 

*1 April tot 30 Junie 2021

 

Uitgereik deur:          TLU SA

Datum:                       20 Augustus 2021

Navrae:                       Mnr Henry Geldenhuys, President TLU SA,

                                    Sel.: 083 560 1273

Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,

                                    Sel.: 082 466 4470

Kategorie:

Deel dit:

5 760 moorde in drie maande waansin, sê TLU SA