James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Onteieningswet is keerpunt

Suid-Afrika staan weer voor ’n groot keerpunt in sy geskiedenis met die besluit om die Onteieningswet van 2020 op 14 September aan die Nasionale Vergadering voor te lê wat beteken dié wet kan in November reeds gepromulgeer wees.

“Indien die wetsontwerp deurgaan, gaan dit ’n geweldige impak op ons land se ekonomie hê soos al telkemale deur TLU SA uitgewys,” sê mnr. Henry Geldenhuys, TLU SA President.

Die Grondwet bepaal dat “eiendom” nie tot grond alleen beperk word nie en hoewel die wet tans voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding tot grond beperk is, is die probleem dat die beginsel gebreek word en kan die Grondwet bepaling later die beginsel ook van toepassing maak op alle ander eiendom.

“Dié stuk wetgewing is uiters kortsigtig. Wie sal enigsins belê in ’n land waar die staat sodanige magte aan homself toe-eien? Met ’n werkloosheidsyfer wat juis as gevolg van die ANC se transformasiebeleid weghardloop, is dit ’n ope vraag hoe die regering die pad vorentoe sien ten opsigte van beleggingsvertroue? Dit is immer die beginpunt van ekonomiese groei. Ekonomiese groei is terloops die enigste wyse hoe die sosio-maatskaplike realiteit wat elke dag vererger mettertyd opgelos kan word.”

Die beginsel van privaatbesitreg vorm die basis van welvaartskepping en moet ten alle koste beskerm word. Die weg wat die regering inslaan het wêreldwyd nog net armoede en baie hartseer veroorsaak.

“Elke inwoner van Suid-Afrika wat dit erns het oor die toekoms van hul kinders sal hierdie drakoniese voorstel van die ANC, wat sy ontstaan te danke het aan ’n emosionele geveg in ANC-geledere tydens sy vorige beleidskonferensie, met alle moontlike middele beveg.

Dit is nou tyd om met groter verantwoordelikheid te bou aan die toekoms,” voeg mnr. Geldenhuys by.

TLU SA stel die volgende twee aksies voor in die lig van impak van die Onteieningswet.

“Die beskuldigings dat ons die grond gesteel het, is nou al so baie keer gebesig dat dit nou as die waarheid aanvaar word. Dit is egter naamskending om betrokke partye valslik te beskuldig,” vertel mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder.

“Ons moedig ons ondersteuners aan om telkens wanneer iemand sodanige aantyging maak ’n formele klag by die SAPD te gaan lê vir crimen Injuria en versoek dat dit ondersoek moet word. Iets moet gedoen word om die leuen wat ongehinderd wyd verkondig word nek om te draai.”

Dan, kliek op dié skakel https://www.tlu.co.za/onteieningswet/ en deel jou persoonlike kommentaar oor die impak wat die Onteieningswet op jou sal hê sodat ons dit met die regering kan deel.

Kategorie:

Deel dit:

Onteieningswet is keerpunt