Woorde begin opdroog om die wanbestuur waarmee Suid-Afrika daagliks gebombardeer word te beskryf. Die wanaanwending van fondse in die landboudepartement wat deur die portefeuljekomitee in hul begrotingshersienings- en aanbevelingsverslag blootgelê is, moet nog deur die nasionale vergadering oorweeg word.
Die verslag wys daarop dat verkwiste uitgawes van R33 000 in die 2021-22 finansiële jaar drasties gestyg het tot R30 miljoen in 2022-23 jaar. Die meeste daarvan as gevolg van betaling vir dienste wat nie gelewer is nie. Diefstal en korrupsie vier steeds hoogty.
“Dit word ‘n norm en dit wil voorkom of mense met tyd daaraan gewoond raak. Dit is heeltemal onaanvaarbaar. Die belastingbetaler kan nie langer ‘n regering ondersteun wat geen verantwoordelikheid vir die bestuur van fondse aan die dag lê nie. Dit terwyl daar mense is wat nie kos het om te eet nie,” meen Erika Helm, voorsitter van TLU SA se Plaaslike Regering Komitee.
Die hoofdoelwitte van die landboudepartement is om ‘n omgewing te help skep en ondersteun waarbinne suksesvolle boere winsgewend kan boer om sodoende voedselsekerheid vir alle Suid-Afrikaners te verseker. TLU SA is bekommerd dat dié doelwitte nie in die belang van alle landbouers is nie, en dat dit net as ‘n front dien vir meer diefstal en korrupsie.
Om te bepaal wie is skuldig behoort ‘n eenvoudige oefening te wees en daar moet kriminele klagtes teen hulle gelê word. Die straf vir hierdie tipe gedrag is egter lig, want daar is geen strafmaatreëls om oortreders van dié tipe gedrag te weerhou nie.
“Die landboudepartement staan nou voor ‘n integriteitstoets. Die politieke hoof van die departement behoort verantwoordelik en aanspreeklik te wees vir haar departement se handelinge. Die vraag oor wat het geword van die oorsigrol gaan seker soos baie ander korrupsie en selfverrykingsake in die lug bly hang,” se Bennie van Zyl, TLU SA hoofbestuurder.
Indien daar egter aangegaan word asof dié soort verslae die norm is waarvolgens ons land regeer word, is dit ‘n klap in elke belastingbetaler se gesig. Die prys van die huidige beleidsrigting het inderdaad vir Suid-Afrika te duur geword.
Foto: Towfiqu barbhuiya on Unsplash


