(Fotokrediet: GovernmentZA)
Geagte Mnr. President,
Die toestand in Suid-Afrika, soos u self weet, is beroerd. Misdaad is buite beheer, en ekonomiese groei skep nie die nodige kapasiteit om werkloosheid aan te spreek nie. Infrastruktuur sowel as die instellings wat die publiek moet dien, stotter voort in grootliks oneffektiwiteit. Hierdie is alles aspekte waarvoor die regering die verantwoordelikheid volledig moet aanvaar.
Mnr. die President, ons moet iewers begin om eerlik te raak oor die gevolge van die ANC se beleidsomgewing. Oor dertig jaar heen is die land se vermoë afgetakel tot by hierdie punt, waar die resultate van dit wat julle as ANC-regering gedoen of dalk nié gedoen het nie, ons land naby die punt van mislukking gebring het. Suid-Afrika het werklik soveel potensiaal, maar dit gaan ’n paar aspekte vereis wat toegepas moet word:
- Daar moet ernstig besin word oor die beleidsomgewing wat die afgelope 30 jaar toegepas is. Die ANC-regering se optrede wys dat hulle welvaart as ’n gegewe aanvaar en van die veronderstelling uitgaan dat daar wel fondse beskikbaar is, wat hetsy met tenderbedrog of op ander duistere metodes afgewentel kan word na kaders wat in poste aangestel word sonder dat hulle oor die nodige kundigheid beskik om die werk te kan doen.
- Misdaad in Suid-Afrika het totaal buite beheer geraak. Ten spyte van sommige puik lede in die SAPD, is die dienslewering van die SAPD van so aard dat die publiek hulle nie meer vertrou nie. Die aanspreeklikheid hiervan lê vierkantig op die regering se skouers.
- Die onsekerheid wat geskep word deur beleidsaspekte soos onteiening sonder vergoeding, het reeds in die eerste drie maande van 2024 ’n 36% afname in buitelandse beleggings veroorsaak in vergelyking met 2023. Vaste beleggings is een van die beginpunte wat nodig is vir ekonomiese groei.
- Die winsgewendheid van landbou word ernstig aangetas deur foutiewe inmenging van die staat, hetsy deur wetgewing of die versuim om infrastruktuur in stand te hou, wat groot bykomende kostes vir produsente teweegbring. Die ANC-regering het nie die primêre verantwoordelikhede wat ’n regering in ’n demokrasie moet nakom, nagekom nie.
- Die kwaliteit van onderwys in Suid-Afrika laat veel te wense oor. Na 30 jaar van die ANC aan bewind is die resultate steeds nie internasionaal mededingend nie.
- Die wanbestuur, of in baie gevalle gevalle van géén bestuur en instandhouding van ons infrastruktuur nie, laat die ekonomiese ratte roes en verhoed ekonomiese sukses.
- Die afwysende benadering om kommersiële boere aan hulle eie lot oor te laat in tye van rampe, is ’n skandvlek op Suid-Afrika se regering. Boere is die regering se grootste bate. Neem die kos van die tafels af, en elke ekonomiese aktiwiteit in die land sal tot stilstand kom. Chaos en anargie sal uitbreek, en TLU SA twyfel sterk daarin dat die regering nié beskik nie oor die vermoë om so ’n situasie te hanteer nie. Koester die boere wat voedsel produseer vir die markte.
- Dienslewering in Suid-Afrika het heeltemal verdwyn. Solank kaderontplooiing voortduur en kundigheid nie die kriteria is vir aanstellings nie, sal probleme net vererger.
- Die transformasiebeleid soos toegepas, bevoordeel slegs ’n paar lojale persone naby die regering se vuur. Staak die beleid van SEB en fokus eerder op oriëntering en opleiding van die land se mense sodat almal kan leer wat welvaart is, waar dit vandaan kom, en hoe dit verkry word.
Reeds op 7 Junie 2019 het TLU SA die aangehegde skrywe aan u gestuur. Dit het vyf jaar geneem vir kiesers om te besef daar is geen toekoms onder die ANC se beleid nie. U is amper heeltemal verwerp oor juis daardie beleidsrigtings wat elke jongmens se toekoms steel. Wêreldwyd het hierdie beleidsrigting net hartseer en armoede bewerkstellig.
Wat gaan u bydrae voortaan wees nou dat daar ’n regering van nasionale eenheid gevestig is? Indien u volhard met die vernietigende beleidsrigting waarmee u oor 30 jaar hierdie land se wiele laat afkom het, sal daar soos vyf jaar gelede gewaarsku is, na u verwys word as die president wat Suid-Afrika op die ashoop van mislukkings geplaas het.
Toets alle beleidsuitgangspunte oor wat die gevolge op ekonomiese groei sal wees. Staak kaderontplooiing en roei korrupsie uit op alle vlakke. Suiwer die SAPD sodat hulle weer ’n trotse eenheid kan wees tot diens van die land se mense. Respekteer die regte ekonomiese beginsels en pas dit toe – beginsels wat wêreldwyd bewys het dat dit welvaart kan skep, naamlik die beginsel van privaat besitreg en ’n markgerigte ekonomiese bestel. Vir diegene wat die verantwoordelikheid aanvaar van wat die lewe van jou vereis, is daar die geleentheid om welvaart te skep.
Hierdie aspekte begin alles by u as president en die leiding wat u verskaf.



