Wetgewing op mynbou wysig bykans daagliks en is dit TLU SA se oortuiging om deur middel van kommunikasie met lede, die nodige inligting onder ons lede se aandag te bring en ons lede op datum te hou met veranderinge. Mynbou verwante aspekte word in baie gevalle in die hande gelaat van omgewingskonsultante wat dan namens die landbouers aangeleenthede hanteer. Dit is ‘n maklike opsie, maar ook ‘n baie duur opsie om te oorweeg. Ten spyte daarvan dat omgewingskonsultante in staat is om enige aansoek te hanteer en die breër omgewingskennis het, is die grondeienaar en inwoner in die gebied die persoon met die beste kennis van geskiedenis, kultuur, omgewing en beskerming van sekere bronne wat insluit waterhulpbronne, fauna en flora vir sy oorlewing.
TLU SA erken mynbou is belangrik om beleggingsmoontlikhede te skep vir die ontginning en verwerking van produkte, opleiding en vaardigheidsontwikkelings geleenthede daar te stel ten einde as resultaat buitelandse valuta in te bring. Die goedkeuring van mynbou aktiwiteite op landbou eiendom kan egter ook ‘n negatiewe invloed hê op gesonde landbou aktiwiteite. Besoedeling van natuurlike hulpbronne vind plaas waar rehabilitasie nie moontlike of haalbaar is nie. Onwettige aksies word meer gereeld waargeneem sonder die nodige oorwegings, konsultasie en goedkeuring en die regering se hantering daarvan faal die grondeienaar aangesien daar nie voldoende kennis by die polisiediens bestaan om die aangeleenthede te hanteer nie. Enige onregmatige poging van mynbou aktiwiteite kan by die grondeienaar gestuit word en wil ons graag hiermee ‘n paar punte uitlig wat belangrik is.
Minerale behoort aan die regering. Die regte van ontginning en mynbou aktiwiteite word deur die Departement Minerale Sake en Departement Omgewingsake hanteer. Die grondeienaar het geen regte om enige toestemming of regte te gee aan enige persoon nie. Die staat is die eienaar van minerale en slegs die staat mag die reg toestaan.
Wanneer mag ek toegang tot my privaat eiendom verleen?
Die reg tot toegang mag slegs verleen word aan ‘n houer van ‘n GOEDGEKEURDE:
• prospekteerreg,
• mynreg,
• eksplorasiereg
• produksiereg
• reconnaissance permit
• mynpermit
Wanneer ‘n persoon hierdie goedgekeurde reg besit, mag ook sy werknemers die eiendom betree. Die houer van die reg mag enige toerusting wat in die uitvoering van die reg benodig word, op die eiendom bring.
GEEN MYNBOUVERWANTE AKTIWITEITE MAG GEDOEN WORD SONDER ‘N GOEDGEKEURDE OMGEWINGSBESTUURSPROGRAM OF ‘N GOEDGEKEURDE OMGEWINGSBESTUURSPLAN NIE. GEEN MYNBOUVERWANTE AKTIWITEITE MAG GEDOEN WORD SONDER DIE NODIGE TOESTEMMING, PERMIT OF REG NIE. Hierdie toestemming en permit mag slegs deur die staat uitgereik word. Die grondeienaar het nie hierdie reg nie aangesien die minerale nie aan die grondeienaar behoort nie. Enige grondeienaar wat hierdie reg toestaan, oortree die wet en is skuldig aan onwettige mynbouaktiwiteite.
Wanneer kan ek toegang weier?
Indien ‘n individu toegang tot privaat eiendom verlang, kan die eienaar van die eiendom so ‘n persoon toegang weier indien daar nie bewys gelewer kan word van ‘n reg wat die persoon besit nie. Die reg kan slegs bekom word na die aansoek proses behoorlik gedoen is wat die aansoeker ongeveer 6 tot 12 maande neem om die reg te verkry sonder enige onnodige vertragings by die Departement Minerale Sake. Dit is in die hande van die grondeienaar om enige persoon betrokke by die omgewing impakstudie opname tydperk, op die eiendom toe te laat om inligting te versamel vir die saamstel van ‘n behoorlike impak studie. Daar is geen wetlike verpligting op die grondeienaar om wel toegang te bied nie. Dit is slegs ‘n goeie opsie om ‘n volledige, deursigtige, in-diepte verslag te voorsien.
Die eerste skriftelike bevestiging wat ‘n aansoeker ontvang van die Departement Minerale Sake is die “aanvaarding skrywe”. Hierdie skrywe van die Departement bevestig slegs dat die aansoek ingedien is volgens die voorgeskrewe riglyne en voldoen aan die minimum vereistes. HIERDIE AANVAARDINGSKRYWE GEE NIE ENIGE REG TOT MYNBOU AKTIWITEITE NIE. Grondeienaars moet hulself vergewis van enige dokumentasie wat aan hulle voorgehou word met die voorwendsel dat daar ‘n reg bestaan. ‘n Aanvaardingskrywe gee die aansoeker geen reg nie, slegs verpligtinge waaraan daar moet voldoen word waarvan omgewingsgoedkeuring ‘n belangrike aspek is en van toepassing is op die eiendom. Tydens hierdie proses moet daar gekonsulteer word met die grondeienaar wat persoonlik in kennis gestel moet word van die beoogde ontwikkeling en die impakte op die grondeienaar en sy aktiwiteite. Geen mynbou aktiwiteite mag aanvang neem tensy die bevoegde owerheid of die minister die omgewingsmagtiging vir die aktiwiteite verleen het nie. Dit is dan ook die taak van die grondeienaar om te verseker dat die aktiwiteite nie onderneem word voor goedkeuring nie.
Waar enige konsultasie met grondeienaars onderneem word, moet die wetgewing op administratiewe geregtigheid (Promotion of Administrative Justice Act no 3 van 2000 no 20853) in ag geneem word. Die volgende is van belang:
• Administratiewe aksies moet vir ‘n redelike tyd voorsiening maak en moet binne die beginsels van wetlikheid, redelikheid en prosedurele regverdigheid geskied.
• Enige aksie wat gedoen word moet skriftelik wees ten einde bogenoemde punt te rugsteun. • Die grondeienaar moet afskrifte van elke dokument behou wat ontvang of gestuur is. Administratiewe spoor is belangrik indien daar tot appél of litigasie oorgegaan word.
• Hanteer alle administratiewe sake SKRIFTELIK en maak seker dat die dokument wel die persoon bereik.
• Tydens enige korrespondensie moet die volgende bygevoeg word: o Die eienaar gee nie toestemming tot die betreding van die eiendom nie. Die skrywe word gerig sonder benadeling van enige regte
• TLU SA se plaasbesoek protokol geld te alle tye en moet daar in korrespondensie vermeld word van die toepassing asook ‘n afskrif daarvan moet aangeheg word.
Indien enige grondeienaar onseker is oor sy regte met betrekking tot mynbou aktiwiteite, is u welkom om TLU SA te kontak wat u graag met raad sal bystaan.
In opvolgende uitgawes gaan daar meer inligting verskaf word oor mynbou aktiwiteite en die impak daarvan asook die grondeienaar se aksies wat geneem kan word.





