TLU SA het op 10 September tydens sy jaarlikse kongres se dinee die Jongboer van die Jaar 2025 bekendgemaak. Die groot wenner is Tiaan Barkhuizen (33) van Garies, wat ‘n Dorperstoet bestuur, kommersieel boer met boerbokke en skape, en ‘n voorbeeld van jong landbouleierskap in Suid-Afrika is.
Tiaan deel sy visie vir die toekoms: jong mense moet nooit ophou probeer nie, aanhou boer en help om minder plase onbewerk te laat lê. Hy glo dat landbou die hart van die land is en hoop dat meer jongmense terug plaas toe sal gaan om voedselsekerheid te bou.
Thian Heyns is as naaswenner aangewys, terwyl Willem van der Merwe & Francois du Toit, wat as vennote ingeskryf het, derde plek behaal het.
Barkhuizen se groot prys sluit onder andere ‘n splinternuwe BYD-bakkie vir ‘n jaar se gebruik, geborg deur Hatfield Motor Groep, sowel as R50 000 kontant, geborg deur Manitou, in. Santam het die kontantpryse vir die naaswenner en derde plek geborg.
“Dit is vir my ‘n groot voorreg om saam met sulke uitstaande jong boere te staan,” sê Clemens Senekal, Voorsitter van die Jongboerkomitee. “Ons jongboere is die toekoms van landbou in Suid-Afrika. Hierdie wenners wys vir ons wat moontlik is met harde werk, visie en ’n liefde vir die plaas. Hulle gee hoop dat die volgende geslag boere nie net sal volhou nie, maar die bedryf verder sal uitbou.”
Verskeie ander wenners het ook ‘n reeks trofees ontvang.
Henry Geldenhuys sluit af: “Ons sluit vanjaar se Kongres op ‘n hoë noot af. Dankie aan elkeen wat deel was van ons Kongres. Saam laat ons landbou leef.”





