Inskrywings vir TLU SA se Jongboer van die Jaar 2026-kompetisie sluit op 19 Junie en jong produsente regoor Suid-Afrika word nou aangemoedig om van die laaste geleentheid gebruik te maak om deel te word van een van georganiseerde landbou se mees gesogte kompetisies.
Die TLU SA Jongboer van die Jaar-kompetisie het oor die jare ’n belangrike platform geword waar jong boere erkenning ontvang vir uitnemende bestuursvernuf, deursettingsvermoë, innovasie en hul bydrae tot voedselsekerheid in Suid-Afrika. Die kompetisie fokus nie slegs op produksie nie, maar op die volledige pakket van moderne boerderybestuur en die vermoë om ’n boerdery volhoubaar en verantwoordelik te bestuur in ’n tyd van toenemende ekonomiese en politieke druk.
Vanjaar se kompetisie bied weer indrukwekkende pryse aan deelnemers. Die wenner ontvang gebruik van ’n bakkie vir 12 maande tesame met ’n kontantprys, terwyl die tweede- en derdeplekwenners gebruik van ’n SUV vir drie maande sowel as kontantpryse ontvang. Daarbenewens ontvang finaliste eksklusiewe geskenkpakkette, terwyl ’n tegnologie-borgskap ter waarde van R124 000 ook deel vorm van die pryspakket.
Plaasbesoeke deur die beoordelaars vind van 13 tot 17 Julie plaas. Gedurende hierdie tyd word finaliste op hul plase besoek waar verskeie aspekte van hul boerdery beoordeel word. Die beoordelingsproses sluit onder meer finansiële bestuur, arbeidsbestuur, tegnologie en meganisasie, risikobestuur, veiligheid, instandhouding, innovasie, funksionele doeltreffendheid, bemarking en gemeenskapsbetrokkenheid in.
Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, speel die kompetisie ’n belangrike rol om jong produsente aan te moedig en die volgende geslag landbouleiers blootstelling te gee.
“Ons sien jaar na jaar jong boere wat onder moeilike omstandighede steeds uitnemend presteer. Hierdie kompetisie gee erkenning aan mense wat bereid is om verantwoordelikheid vir die land se voedselsekerheid te neem en wat dag vir dag bewys dat Suid-Afrika steeds uitstekende jong produsente het,” sê Van Zyl.
Hy meen die kompetisie gaan oor veel meer as bloot goeie oeste of mooi toerusting.
“Wanneer beoordelaars ’n plaas besoek, kyk hulle na die volledige bestuur van die boerdery. Dit gaan oor visie, beplanning, dissipline, verantwoordelike besluitneming en die vermoë om volhoubaar te produseer. Ons wil jong boere identifiseer wat nie net vandag suksesvol boer nie, maar wat ook besig is om die grondslag vir die toekoms van landbou te lê,” sê hy.
Van Zyl wys daarop dat vorige wenners van die kompetisie vandag steeds ’n groot rol binne hul onderskeie bedrywe, streke en georganiseerde landbou speel. Volgens hom het die kompetisie deur die jare bewys dat dit werklik jong produsente identifiseer wat die potensiaal het om leiers binne die landbougemeenskap te word.
“Wanneer ons terugkyk na vorige wenners en finaliste, sien ons mense wat vandag steeds groei, uitbrei en leiding neem. Baie van hulle dien vandag op verskillende strukture binne georganiseerde landbou en bly ’n voorbeeld vir ander jong produsente. Dit wys die waarde van die kompetisie en die kwaliteit van die deelnemers wat jaarliks inskryf,” sê hy.
Hy doen ook ’n ernstige beroep op jong produsente om nie hulself te onderskat nie en wel in te skryf voordat die sluitingsdatum aanbreek.
“Te veel jong boere dink hulle is nog nie gereed nie of dat hul boerdery nie groot genoeg is nie. Die kompetisie gaan egter oor potensiaal, bestuursvernuf en toewyding. Ons wil graag jong produsente aanmoedig om hul stories te vertel en deel te word van iets wat georganiseerde landbou versterk,” sê Van Zyl.
TLU SA glo dat jong produsente ’n sleutelrol speel in die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou en dat platforms soos die Jongboer van die Jaar-kompetisie help om daardie volgende generasie boere aan te moedig en te ontwikkel.
Belangstellendes word aangemoedig om hul inskrywings voor 19 Junie in te dien. Meer inligting is beskikbaar by TLU SA.





