James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Plaasmoord beklemtoon dringende behoefte aan politieke erns oor landelike veiligheid

TLU SA spreek sy diepe medelye uit met die familie en naasbestaandes van Hannetjie van Zyl, wat Maandagaand tydens ’n aanval buite Ottosdal in Noordwes vermoor is.

Die jongste voorval plaas opnuut die kollig op ’n vraag wat TLU SA reeds geruime tyd aan die regering stel: Wanneer gaan plaasaanvalle en -moorde die politieke en veiligheidsprioriteit geniet wat die omvang en volgehoue aard daarvan vereis?

“Hierdie is nie geïsoleerde voorvalle wat bloot van maand tot maand aangeteken word nie. Daar is ’n volgehoue veiligheidsprobleem in landelike gebiede en dit vereis ’n volgehoue, gekoördineerde reaksie van die staat,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Volgens TLU SA se eie voorvalregister is 26 plaasaanvalle en drie plaasmoorde in Augustus 2026 aangeteken, gevolg deur 17 aanvalle in September. In die eerste sewe dae van Oktober is reeds sewe plaasaanvalle en een plaasmoord aangeteken. Die groter tendens wek ernstige kommer: 32 plaasmoorde is in 2024 aangeteken en 23 in 2025, terwyl die totaal vir 2026 teen 7 Oktober reeds op 27 staan. Dit beteken dat 2026 se syfer reeds sowat 17% hoër as die totaal vir die hele 2025 is; met byna drie maande van die jaar wat nog voorlê. Vir TLU SA bevestig dié syfers opnuut die omvang van die veiligheidsbedreiging waarmee boere, plaaswerkers en hul gesinne in landelike gebiede gekonfronteer word.

TLU SA is veral bekommerd oor die gebrek aan duidelike politieke leiding oor plaasaanvalle en -moorde. President Cyril Ramaphosa het ’n verantwoordelikheid om ook teenoor landelike gemeenskappe duidelik te maak dat hul veiligheid erken en ernstig opgeneem word.

“Wanneer hierdie aanvalle plaasvind, is die afwesigheid van ’n duidelike boodskap vanaf die hoogste vlak van regering opvallend. Erkenning alleen gaan nie die probleem oplos nie, maar ’n probleem wat nie behoorlik erken en geprioritiseer word nie, sal ook nie behoorlik aangespreek word nie,” sê Van Zyl.

Die onsekerheid rondom die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie versterk dié kommer. Die strategie is sedert April onder hersiening, maar die hersiene weergawe is steeds nie finaal afgeteken nie. Die uitgerekte hersieningsproses is onaanvaarbaar. TLU SA dring daarop aan dat die strategie dringend gefinaliseer en daadwerklik geïmplementeer word.

Landelike veiligheid kan nie bloot uit beleidsdokumente en vergaderings bestaan nie. Dit moet sigbaar wees in voldoende polisiëring, intelligensiegedrewe misdaadbekamping, behoorlike reaksievermoë en werkbare samewerking met georganiseerde landbou en plaaslike veiligheidstrukture.

Die voortgesette veiligheid van die landbougemeenskap raak uiteindelik ook Suid-Afrika se vermoë om volhoubaar voedsel te produseer.

“Ons verwag van boere om te produseer, te belê, werk te skep en voedsel op Suid-Afrikaanse tafels te plaas. Ons kan nie terselfdertyd van hulle verwag om ’n toenemende veiligheidsrisiko as bloot deel van die werklikheid van boerdery te aanvaar nie,” sê Van Zyl.

TLU SA sal voortgaan om plaasaanvalle en -moorde aan te teken en landelike veiligheid op elke toepaslike platform te prioritiseer. Die verantwoordelikheid vir veiligheid kan egter nie toenemend na boere en gemeenskappe self verskuif terwyl die staat se grondwetlike verantwoordelikheid op die agtergrond verdwyn nie.

Die moord buite Ottosdal behoort daarom nie bloot tot nog ’n ronde veroordelings en medelye te lei nie. Dit behoort die regering te dwing om duidelik te antwoord wat gedoen word om die volgende aanval te voorkom.

Die landbougemeenskap het nie nóg beloftes nodig nie. Dit het ’n werkbare veiligheidsplan en die politieke wil nodig om dit uit te voer.

Kategorie:

Deel dit:

Plaasmoord beklemtoon dringende behoefte aan politieke erns oor landelike veiligheid