James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Die toekoms van die boer na die bord

Die kundigheid wat oor jare heen in Suid-Afrika se kommersiële boere opgebou is, is prysenswaardig. Dit gaan egter oor veel meer as bloot die oordrag van kennis van een geslag na die volgende. Dit verg ’n besondere soort mens; iemand wat nie terugdeins voor ’n magdom veranderlikes waaroor hy geen beheer het nie, maar steeds bereid is om te bou, te plant en te belê in die toekoms.

Die voedsel wat uiteindelik op die verbruiker se bord beland, is die resultaat van ’n lang en komplekse proses. Talle handelinge moet deurlopend en volhoubaar plaasvind voordat voedsel geproduseer, verwerk, vervoer en uiteindelik verkoop kan word.

Voedselsekerheid beteken daarom dat veilige, bekostigbare en voldoende voedsel op die mark beskikbaar moet wees. Dit beteken egter ook dat inwoners oor die vermoë moet beskik om daardie voedsel te kan koop. Juis hier lê een van Suid-Afrika se groot uitdagings. Met ’n uiters hoë werkloosheidsyfer, ’n ekonomie wat te stadig groei, korrupsie, diefstal en swak dienslewering deur instellings wat juis veronderstel is om die publiek te ondersteun, is daar nie ’n gesonde vraag na voedsel soos wat dit in ’n groeiende ekonomie behoort te wees nie. Die gevolg is ’n verwronge mark wat nie noodwendig die winsgewendheid van voedselproduksie bevorder nie.

Te midde van hierdie werklikhede is dit besonder bemoedigend om die jong boere van Suid-Afrika te ontmoet. Die finaliste van TLU SA se jaarlikse Jongboerkompetisie is onlangs deur die beoordelaarspaneel op hul plase besoek. Die toewyding, passie en toekomsgerigtheid van hierdie jong boere was uitsonderlik. Elke besoek het ’n sterk besef van verantwoordelikheid vir die toekoms weerspieël.

Dit is daarom ’n besondere uitdaging om ’n eerste, tweede en derde plek aan te wys uit ’n groep boere wat eintlik almal wenners is. Die finale uitslag sal tydens TLU SA se kongres op 2 September bekend gemaak word. Die besoeke het egter opnuut bevestig dat die toekoms van SuidAfrikaanse landbou nie bloot in tegnologie, grond en kapitaal lê nie. Dit lê in mense. Elke onderneming, en dus ook elke boerdery, moet uiteindelik aan die einde
van ’n finansiële jaar een fundamentele vraag beantwoord: Was ons winsgewend? Sonder volhoubare wins kan geen onderneming voortbestaan nie. Wins is nie hebsug nie; dit is die grondslag waarop ’n onderneming kan voortgaan om werk te skep, die plaaslike en nasionale ekonomie te stimuleer, te investeer en voedsel te produseer.

Die hartseer werklikheid is dat die huidige beleidsomgewing een van die grootste bedreigings vir die voortbestaan van voedselproduserende boere geword het. Afgesien van faktore soos droogte, vloede, siektes en ander klimatologiese veranderlikes, spruit talle van die huidige uitdagings direk of indirek voort uit die wyse waarop Suid-Afrika bestuur en geregeer word.

Tog is dit opvallend dat die jong boere wat besoek is, nie hul toekoms bou rondom ’n permanente negatiewe scenario nie. Hulle erken die uitdagings, maar hulle laat hulle nie daardeur definieer nie. Hulle bou steeds; vir hulself, vir hul gesinne, vir hul werknemers en vir die geslagte wat ná hulle kom.

By verskeie van die besoeke het ’n besondere geloofsoortuiging na vore gekom: Boerdery is ’n voorreg en nie ’n reg nie. Die grondslag van boerdery is geloof. God laat die saad groei, maar die boer dra steeds die verantwoordelikheid om met sy besondere talente, kennis en werksetiek die grond te bewerk en die geleenthede wat aan hom toevertrou is, verantwoordelik te bestuur.

Daar is ook ’n sterk besef dat mense een van die belangrikste bates van enige boerdery is. Sukses is nie die prestasie van een persoon alleen nie. Dit is die resultaat van ’n spanpoging waarin elkeen ’n rol speel. Die groot uitdaging om voedsel op SuidAfrikaners se borde te kry, is daarom nie slegs om meer voedsel te produseer nie. Die ekonomie moet groei sodat meer mense werk kan kry en oor die vermoë beskik om voedsel te koop. Sosiale toelae kan ’n noodsaaklike veiligheidsnet wees, maar dit kan nie die langtermynoplossing vir armoede en werkloosheid wees nie.

Tydens die afgelope besoeke aan die jong boere is daar egter iets belangriks bespeur: realistiese hoop. Nie ’n naïewe hoop dat uitdagings sal verdwyn nie. Ook nie ’n hoop wat op regeringsbeloftes gebou is nie. Dit is die hoop van mense wat weet dat die pad vorentoe moeilik sal wees, maar wat steeds bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar, hard te werk en vir die nageslag te bou.

Van die boer na die bord is ’n lang pad. Die toekoms van daardie pad sal uiteindelik bepaal word deur die vraag of Suid-Afrika ’n omgewing kan skep waarin mense kan werk, ondernemings kan groei en boere volhoubaar kan produseer. Die jong boere van vandag wys egter dat, ten spyte van alles, daar steeds mense is wat bereid is om te plant vir môre.

Hierdie artikel het op 24 Julie in Pretoria FM se Nuusweek verskyn.

Kategorie:

Deel dit:

Die toekoms van die boer na die bord