TLU SA se president, Henry Geldenhuys, sal vandag ’n strafregtelike klag teen Andile Mngxitama, ’n lid van die MK-party en parlementslid, by die SAPD se gemeenskapsdienssentrum in Sheepmoor indien. Die strafregtelike klag is op 6 November 2026 geformuleer en onderteken. Dit volg ná Mngxitama se uitlatings waarin hy hom positief uitgespreek het oor die plaasaanval op Donovan Marx, waartydens die slagoffer se ore afgesny is.
Mngxitama het na bewering gesê dat die afsny van boere se ore simbolies is van wit mense se weiering om te luister. Hy het ook na boere as gronddiewe verwys en gesê dat hy die aanval op Marx vier en nie om verskoning daarvoor sal vra nie.TLU SA beskou hierdie uitlatings as uiters ernstig en onaanvaarbaar, veral teen die agtergrond van die voortslepende geweldsmisdaad waaronder Suid-Afrikaanse boere gebuk gaan.
“TLU SA is ’n landbou-organisasie wat kommersiële boere verteenwoordig wat reeds onder aanhoudende gewelddadige misdaad ly. Om ’n wrede aanval op ’n boer openlik te vier en uitsprake te maak wat geweld teen ’n bepaalde groep mense regverdig, is onaanvaarbaar. Geen persoon, ongeag sy politieke posisie, behoort toegelaat te word om rassehaat aan te wakker of geweld en moord in Suid-Afrika aan te moedig nie,” sê Geldenhuys.
Die strafregtelike klag is gebaseer op artikels 9 en 16 van die Grondwet van Suid-Afrika, wat onderskeidelik die reg op gelykheid en vryheid van uitdrukking beskerm.
TLU SA het reeds op 5 November 2026 ’n afsonderlike klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) oor Mngxitama se uitlatings ingedien.
Geldenhuys doen ’n beroep op die SAPD om die strafregtelike klag deeglik te ondersoek, die tersaaklike grondwetlike bepalings en ander toepaslike wetgewing in ag te neem en die nodige stappe te doen om Mngxitama vir sy uitlatings aanspreeklik te hou.
“Vryheid van uitdrukking kan nie as verskoning gebruik word om geweld te verheerlik, rassehaat aan te wakker of die lyding van slagoffers van plaasaanvalle te bespot nie. Ons kan nie stilbly wanneer sulke uitlatings gemaak word nie. Die veiligheid en menswaardigheid van elke Suid-Afrikaner moet beskerm word.”
TLU SA sal die verloop van beide prosesse monitor en volhou om op te tree teen enige optrede of uitsprake wat geweld teen boere en landelike gemeenskappe aanmoedig.

Fotokrediet: Creative Commons Attribution-NoDerivatives 4.0 (CC BY-ND 4.0)








