Vindingryk, inisiatief, daadkrag, hardwerkend, toekomsvisie en ‘n soliede geloofsbegronding. Dié is die woorde wat die paneel beoordelaars van TLU SA se Jongboer van die Jaar 2021-kompetisie gebruik om vanjaar se finaliste te beskryf.
Gedurende die afgelope paar weke het die paneel beoordelaars oral om die land gereis om die jongmanne op hul plase te gaan besoek.
Volgens Bennie Van Zyl (hoofbestuurder van TLU SA) het die ingesteldheid en positiwiteit wat die beoordelaars oor die toekoms binne landbou en die rol wat elkeen van hulle speel om konstruktief ‘n verskil te maak by die jongmanne geseëvier. Hul gesindheid om eerder te fokus op die positiewe en hul kennis oor die groot verantwoordelikheid wat hulle dra om hard te werk en hul taak tot die beste van hul vermoë uit te voer, inspirerend.
Dit is vir TLU SA van uiterste belang om boere veilig volhoubaar op hul grond te kan hou en die beoordelaars het hierdie gesindheid deurlopend by al die jongmanne ervaar.
Dit was vir die paneel ‘n voorreg om die jong boere te kon besoek en TLU SA het groot waardering vir die verskil wat die jongmanne kan maak.









