James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA blameer 44,4% werkloosheid op ANC-beleid

Die kwartaallikse arbeidsmagopname van Statistiek SA wys die potensiële arbeidsmag in Suid-Afrika het in die afgelope dertien jaar met ongeveer agt miljoen mense toegeneem, maar mense met werk het in dieselfde tyd met net sowat 500 000 mense toegeneem*.

Hierdie syfers kan net voor die deur van die ANC se oneffektiewe beleide oor bykans elke faset van die regering gelê word.

“Die ANC maak geen geheim daarvan dat sosialisme die beleidsrigting is wat hulle as regering nastreef nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Dit is inderdaad so vervat in hulle strategiese NDR-dokument. Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging is bloot woorde vir die plan om almal – behalwe hooggeplaastes – gelyk te maak.”

As mens kyk na lande waar kommunisme en sosialisme geïmplementeer is, is die hoofdoelwit dat almal van die staat afhanklik moet wees, hetsy van toelaes vir die werkloses of werkverskaffing deur die staatsdiens. Met ‘n werkloosheidsyfer (uitgebreide definisie) van 44,4%, die onlangse voorstel vir nog ‘n toelaag – ‘n basiese inkomste toelaag vir alle volwassenes – en bykans R2 triljoen wat aan staatsbesoldiging bestee word, is dit baie duidelik waarheen die ANC op pad is.

“Die probleem met die ANC se plan is egter dat sosialisme en kommunisme nooit daartoe lei dat ‘n land ekonomies vooruitgaan nie,” sê mnr. Geldenhuys. “Dit is ook nooit volhoubaar nie. Wanneer almal in die land ewe arm is, is dit nie vooruitgang nie.”

TLU SA stel die volgende oplossings voor:

  • Staak alle beleide wat teen vryemark-beginsels indruis, onmiddellik.
  • Skrap wetgewing wat privaat besitreg aantas.
  • Fokus op ware opleiding sodat mense bemagtig word om die arbeidsmag op meriete te betree.
  • Maak dit makliker vir werkverskaffers soos boere – wat kwartaal na kwartaal ‘n toename in werkverskaffing toon (8,7% tussen April en Junie) – om werkers in diens te neem en te hou.
  • Tree doelgerig en streng op teen korrupsie.

TLU SA sal voortgaan om te veg dat boere, maar ook alle hardwerkende, eerlike Suid-Afrikaners, veilig en volhoubaar in die land kan leef.

 

(*Statistiek SA QLFS Trends 2008-2021Q2

Arbeidsmag – Januarie tot Maart 2008: 31 544 000 afgerond

Arbeidsmag – April tot Junie 2021: 39 599 000 afgerond

Werkers – Januarie tot Maart 2008: 14 438 000 afgerond

Werkers – April tot Junie 2021: 14 942 000 afgerond)

 

Uitgereik deur:          TLU SA

Datum:                       25 Augustus 2021

Navrae:                       Mnr Henry Geldenhuys, President TLU SA,

                                    Sel.: 083 560 1273

Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,

                                    Sel.: 082 466 4470

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA blameer 44,4% werkloosheid op ANC-beleid