Landbou se realiteite
Die jaar het omtrent uiteenlopend begin. In sekere streke waar daar sowat agt jaar intense droogte was, het daar met groot dankbaarheid deurdringende reën geval. Spoel- en haelskade het egter wyd voorgekom en van die boere wat reeds ’n oes in die grond gesit het, is oornag in diep skuld gedompel. Van wyd word ook verneem van versuipskade in landerye. Oor die algemeen is rivierstelsels skoon gespoel en damme weer gevul.
Die veranderlikes wat landbou mee te doen kry, is opnuut beklemtoon. Met die bewuswording van skade deur ’n oormaat reën veroorsaak, is daar steeds boere wat gebuk gaan onder droogte. Ander gebiede is weer getref deur ’n sprinkaanplaag van uiterste omvang.
Mag die boere wat in die dae opnuut swoeg vir uitkomste met watter plaag ook al daar mee geworstel word hul vertroosting daarin vind dat ons weet dat God deur al die eeue steeds in beheer is, al lyk dinge vir ons soms baie duister.
Gegewe al ons werklikhede wil ons graag vir elke lid ’n baie voorspoedige 2022 toewens. Kom ons bly geanker in die waardes wat ons ken en bou dan vanuit daardie hegte basis vir die toekoms.





