Statistiek SA is gereed om gedurende Februarie en Maart vanjaar ’n nasionale sensus uit te voer wat ten doel het om al die inwoners in die RSA te tel en relevante informasie wat vir die nasionale ekonomie belangrik is, in te samel. Ten einde dit vir respondente makliker te maak, word dit beoog om benewens persoonlike opnames, ook van die internet asook telefoniese oproepe gebruik te maak om die nodige informasie te bekom en vas te lê.
Waar opnemers se persoonlike besoeke op plase en hoewes nodig mag wees of waar respondente dit so sou verkies, sal die bestaande Protokol wat besoeke aan plase en hoewes reguleer steeds van toepassing wees. Werknemers van Statistiek SA sal dus steeds afsprake met die betrokke eienaars en bewoners moet maak op datums en tye wat laasgenoemdes sal pas.
’n Suksesvolle en akkurate sensus is van nasionale belang en TLU SA doen ’n beroep op lede en vriende om erns met die sensus te maak en hul samewerking te gee.





