James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Strenger wette vir skrootwerwe die antwoord?

Strenger wetgewing teen skrootmetaalhandelaars wat gesteelde materiaal verkoop, word deur TLU SA verwelkom.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het gedreig om die wet te verskerp teen skrootmetaalhandelaars wat gesteelde Prasa-materiaal koop. Daar word beraam dat die ekonomie miljarde rande verloor weens groot kabeldiefstal. Mbalula het diefstal en vandalisme van Prasa-infrastruktuur as sabotasie vir die ekonomie geklassifiseer.

TLU SA hoop minister Mbalula sal sekermaak dat dit nie net gesteelde Prasa-materiaal is wat onder die loep sal kom nie.

Daar moet veral sterk gefokus word op skroothandelaars wat in koper en aluminium handel. Trekkers en stropers se verkoelers en bedradings harnasse word teen ’n geweldige tempo gestroop agter die koper aan. Die isolasie materiaal van die bedradings harnasse word in ’n vuur weggebrand om sodoende die koper te herwin. By myself is ’n stroper se harnasse geroof, ’n leunwa asook trekkers. Dit is duisende Rande se skade,” het mnr. Bertus van der Westhuizen, TLU SA Streeksvoorsitter: Vrystaat vertel.

Mev. Erika Helm, TLU SA se Voorsitter: Plaaslike Regeringskomitee, voeg by: “Inwoners van die land gaan reeds jare gebuk onder diefstal van infrastruktuur wat miljarde Rande se verliese vir besighede beteken. Dit is nie net ’n Prasa-probleem nie. Dit is ’n uitdaging vir elke besigheid waaronder landbou ook ressorteer. In ’n tydperk wat ekonomiese groei ’n prioriteit is, behoort die regering die handel van gesteelde goedere sterk aan te spreek.

“Dit is ook belangrik dat die SAPD se stelsel noukeurig nagegaan word met die registrasie van diefstalsake veral in die lig van kabeldiefstal sodat die statistieke die werklike stand van sake duidelik uitlig. ’n Beroep word ook op die Minister gedoen om die aanmelding van sake te ondersteun, aangesien dit in baie gevalle gekniehalter word deur ’n defektiewe polisiediens om behoorlik aandag te gee waar dit nodig is.”

Kategorie:

Deel dit:

Strenger wette vir skrootwerwe die antwoord?