ʼn Boer maak dalk ʼn plan, maar NWK Online, hét die plan.
Om landbouprodusente se dinamiese vennoot in ʼn veranderende besigheidsomgewing te kan wees, bly NWK aan die voorpunt van innovasie. Daarom spog sy unieke toepassing, NWK Online, wat in 2012 bekendgestel is, nou met ʼn nuwe baadjie wat ook nuwe toevoegings insluit. Dié vernuwings is geskoei op lojale boereklante en gereelde gebruikers van die toep se terugvoer en aanbevelings. Dit spog met ʼn meer gebruikersvriendelike en moderne uitleg en bestaande funksies is nou meer vaartbelyn.
NWK Online bied die boer toegang tot al sy/haar rekords by Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy – van graanopbrengste en -lewerings, rekeninge en beskikbare krediete, tot die resultate van grondontledings en reënvalsyfers – alles in die palm van jou hand.
NWK Shop is nou geïntegreer met NWK Online. Het jou stroper se waaierband pas gebreek? Kyk sommer gou op die aanlynwinkel watter een van jou naaste NWK Meganisasie-bedryfspunte een beskikbaar het. Daar is meer as 60 000 produkreekse in ons meer as 40 Retail-winkels, op die aanlynwinkel te sien.
Sit ook jou tweedehandse werktuie maklik van die hand deur foto’s en gepaardgaande besonderhede op ons tweedehandse werktuie-katalogus te laai.
Produsente kan die balanse van al hulle NWK-rekeninge hier nagaan. Besonderhede van alle NWK-transaksies word hier gestoor, vanwaar gebruikers dit kan invoer in hulle boekhouprogram en ʼn geskarrel tydens die belastingseisoen vermy.
Sien hoe jou aantal NWK Lojaliteitsprogrampunte groei en kry ʼn intydse balans van jou graankontrakte, lewerings asook privaatopbergingrekeninge. Jou werktuig gaan tydens die stroopseisoen nog nie eens terug wees op die plaas nie, dan gaan jy al kan sien hoeveel ton graan pas uit ʼn wa by jou naaste NWK-silo gelaai is en hoe dit gegradeer is.
Beplanning vir die nuwe plantseisoen is nou soveel makliker en geskoei op ʼn ware weerspieëling van die boer se grondpotensiaal. Grondkarteringsinligting dui die onderskeie sones se fisiese eienskappe, chemiese samestellings en dieptes op een platform aan.
Boere kan hul lande vanuit ʼn heel ander lig sien danksy NDVI- en chemiese kaarte wat die sones se mineraalsamestelling, pH en plantdigtheid aandui. Dit word boonop vergesel van aanbevelingskaarte wat aandui presies hoeveel kalk byvoorbeeld op die onderskeie sones toegedien moet word. Gewasgroei word hier gemonitor en data kan terugwerkend besigtig word ten einde vergelykings tussen die onderskeie jare te tref.
Produsente kan ook die onderskeie jare se opbrengste en gelewerde graan per plaas en land vergelyk.
NWK Online bied ʼn oorsig van jou gerealiseerde gemiddelde graanpryse per produk gedurende die verskillende seisoene. Neem ʼn ingeligte bemarkingsbesluit deur ʼn ogie te hou op die graanmarkte, Safex-pryse en die onderskeie wisselkoerse.
Gebruikers kan ook begin om betroubare reënvaldata op te bou deur hulle onderskeie reënmeters op hul plaaskaarte op NWK Online aan te dui en reënvalmetings hier in te voer.
Doen weg met onnodige papierwerk, bly op hoogte van al jou boerderybedrywe en ontgin die kompeterende voordeel van intydse inligting, integrasie, akkuraatheid en spoed, wat NWK Online jou bied – álles op een platform.
NWK Online kan gevind word by online.nwk.co.za. Dit is ook beskikbaar op Google se Playstore en binnekort op Apple se I-store.
Fotobyskrifte:
NWK Online stoor al jou rekords by NWK op een platform. Chemiese- en NDVI-kaarte laat die boer sy lande in ʼn heel ander lig sien.