TLU SA sê vandag se middeltermyn-begroting deur finansieminister Enoch Godongwana bied min nuwe antwoorde op die vrae wat die land werklik pla. Alhoewel die minister ’n prentjie van fiskale dissipline en tegniese herstel probeer skets het, is dit duidelik dat die kernprobleem van Suid-Afrika nie in tekortsyfers lê nie, maar in verkeerde beleid, ’n gebrek aan kundigheid en ’n stelsel wat nie aanspreeklik is vir die gevolge van sy eie besluite nie.
“Meneer Godongwana het vandag ’n begroting gelewer wat grootliks as tegnies gesond en finansieel versigtig beskryf kan word, maar die werklikheid is dat Suid-Afrika se probleme nie in sy syfers lê nie, dit lê in die regering se beleid,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Die vraag is nie wat wel gesê is nie, maar wat nie gesê is nie.”
TLU SA wys daarop dat die minister se toespraak weereens die kernvraag ontduik het wat Suid-Afrika dringend beantwoord moet kry: Gaan ons steeds probeer om ’n sosialisties-kommunistiese bestel met staatsbeheer en beleidsonsekerheid in stand te hou, of gaan ons uiteindelik bevestig dat privaat eiendomsreg en die vryemark die enigste pad na volhoubare groei is?
“Die begroting klink mooi op papier, stabilisering van skuld, strenger fiskale dissipline en selfs nuwe strukture om infrastruktuur te verbeter, maar dit beteken min solank die beleidsomgewing onseker bly, eiendomsreg ondermyn word, en kundigheid steeds plek maak vir politieke lojaliteit,” sê Van Zyl.
Hoewel TLU SA die poging tot fiskale stabiliteit erken, waarsku die organisasie dat begrotingsdissipline nie die verlies aan kundigheid en die verval van staatsinstellings kan regmaak nie. “Ons hoor weer van sogenaamde hervormings in energie en logistiek, maar die praktyk wys dat infrastruktuurverval, korrupsie en wanbestuur steeds die norm is. Die minister self erken dat munisipaliteite oor kapasiteitsprobleme struikel, dit is nie ’n nuwe ontdekking nie, maar die direkte gevolg van jare se kaderontplooiing en verkeerde aanstellings.”
Van Zyl sê TLU SA is nie tevrede met ’n begroting wat net die simptome aanspreek nie, terwyl die oorsaak onaangeraak bly. “Die land se probleem is nie ’n tekort aan geld nie, dit is ’n tekort aan kundigheid, dissipline en morele ruggraat. Geen infrastruktuur-agentskap of skuldanker sal sin maak as die mense wat dit bestuur nie bevoeg en aanspreeklik is nie.”
TLU SA herinner die regering aan sy kernverantwoordelikhede:
- Om eiendomsreg te beskerm as grondslag van beleggingsvertroue en voedselsekerheid.
- Om kundigheid bo politieke lojaliteit te stel in elke staatsinstelling.
- Om ’n vryemarkbeleid te bevestig waar ondernemingsgees en individuele verantwoordelikheid beloon word.
- Om veiligheid en regsekerheid te herstel sodat Suid-Afrikaners met vrymoedigheid kan bou aan hul toekoms.
“Die regering hou aan praat oor groei, maar groei kan nie begroot word nie, dit moet verdien word deur vertroue en konsekwente beleid. Daar is eenvoudig geen kortpad nie,” sê Van Zyl.
Hy voeg by: “Die minister se verklaring dat Suid-Afrika ‘groei, stabiliteit en hervorming kies’ klink mooi, maar in die praktyk beteken dit niks solank sosialisties-kommunistiese ideologieë steeds die rigting bepaal nie. Beleidsduidelikheid, nie politieke toesprake nie, sal die verskil maak.”
TLU SA doen weereens ’n ernstige beroep op die regering om sy prioriteite te heroorweeg. “Ons boere, sakemanne en werkers dra elke dag die las van ’n beleid wat nie werklik groei bevorder nie. Suid-Afrika kan nie nog ’n jaar van vae beloftes en ideologiese blindheid bekostig nie. Die land het eerlikheid, kundigheid en ’n nuwe koers nodig, nie nóg begrotingsterme nie,” sluit Van Zyl af.

