TLU SA se Noord-Kaaptoer het na ‘n week in Orania geëindig ná ‘n reeks suksesvolle vergaderings in verskeie gemeenskappe. Ons het groot waardering teenoor Jannie Roux (Streeksvoorsitter) en Louwtjie Kruger (Streek-ondervoorsitter) wat die toer meegemaak het.
Die toer het opnuut die waarde van persoonlike kontak met lede en die verskaffing van ondersteuning volgens behoefte beklemtoon. Dank teenoor Jannie en ons voorsitter van die Plaaslike Regeringkomitee, Erika Helm, wat vinnig probleme kon oplos en bygedra het tot die stigting van TWEE nuwe boere-unies op Vanwyksvlei sowel as Calvinia.
Ons het ook weer ervaar dat begronde standpunte gebaseer op deursigtige waarheid soos TLU SA se beleid en benadering telkens tot voordeel van die boer strek, en uiteindelik sal seëvier.
Dit gaan oor die algemeen beter in die Noord-Kaap ná die jarelange droogte. Hoewel dit redelik wyd gereën het, is dit ‘n lang pad van herstel wat voorlê en kan daar net vertrou word dat die nuwe seisoen goeie reën gaan bring, veral daar waar dit steeds knyp. Die boere se vasbyt en deursettingsvermoë moet vermeld word. Die gasvryheid waarmee ons drie telkens baie gul mee ontvang is, wys net opnuut die stoffasie waaruit ons landbougemeenskap gemaak is – daarvoor ‘n groot dank teenoor die Noord-Kaapboere.