Gesamentlike verklaring deur Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, Ina Wilken, verbruikerspesialis, Colin Engelbrecht, voorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika, Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die werkgewersorganisasie Neasa, en Theo de Jager, voorsitter van Saai.
Beginsels wat onder ANC-bestuur onaanvaarbaar was, is nie skielik aanvaarbaar net omdat dit nou onder DA-bestuur is nie. Boere verwag van landbouminister John Steenhuisen om reg te maak waar die ANC met ‘n vernietigende ideologiese inslag landbou van die spoor af laat loop het.
“Suid-Afrikaanse kiesers het dit tydens die verkiesing duidelik gemaak dat die ANC se koers nie aanvaarbaar is nie. Daar is groot kommer indien die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) gaan voortgaan op die vernietigende pad van die ANC se beleidsrigting,” sê Bennie van Zyl. hoofbestuurder van TLU SA, na die nuwe landbouminister op Dinsdag 16 Julie sy begrotingstoespraak gelewer het. “Steenhuisen moet die landbou-omgewing met ‘n vars bries rig met die regte ekonomiese beginsels – dit is wat Suid-Afrika nodig het.”
Sy persepsie dat die Landbou Meesterplan wye inkoop in die sektor geniet, is oningelig en vals. Daar was niks inklusief aan die skryf van die plan nie, en buiten diegene soos familieboere, wildboere, landbouwerkgewers en verbruikers wat moedswillig uitgesluit was, is sommige deelnemers soos TLU SA op ‘n laat stadium uitgeskuif omdat dié landbou-organisasie die implementering van transformasie as kaderontplooiïng bevraagteken het.
Geeneen van hierdie belangegroepe of organisasies dien op enige van Steenhuisen se Waardeketting Ronde Tafels nie, en nog minder op die AAMP Oorsig Uitvoerende Komitee. Daar is ook geen aptyt om ‘n plan te implementeer waarin transformasie belangriker as winsgewendheid, volhoubaarheid of doeltreffendheid is nie.
Ons wou grondige verandering hê, en nie net ‘n versuikerde weergawe van die ANC se ideologie nie.
Boere in Suid-Afrika moes oor 30 jaar leer om die ANC te oorleef en sonder ‘n funksionele departement klaar te kom. Die blok van organisasies wat deur die ANC uitgesluit was, en derhalwe begin het om ‘n alternatiewe, meer markvriendelike meesterplan te skryf, sal voortgaan om self staatsbestande strukture en geleenthede te skep, en druk op die departement te plaas om ‘n beleidsomgewing te ontwikkel waarin kleiner en medium boere winsgewend kan boer.