Almal verwag ‘n groot aanslag op eiendomsreg deur die ANC in aanloop tot die verkiesing. Hulle het inderdaad niks in hul mou oor om aan hulle ondersteuners te belowe anders as grond nie. Onteiening sonder vergoeding soos vervat in die Onteieningswet sal heel waarskynlik beslag kry wat noodwendig verdere aksies gaan verg om teen te werk.
Ons moet besef dat die grootste en gevaarlikste aanslag op ons eiendom inderdaad die aanslag op ons kultuur, ons jeug en ons lewens- en wêreldbeskouing is. Wanneer dr. Blade Nzimandi voor Sadou se kongres meld dat die kurrikulum vir die skole so geskryf is dat dit vir die jeug sosialisme moet leer, is dit iets waarvan ons ernstig moet kennis neem.
Dit is nie moontlik vir alle ouers om hulle kinders in CVO- of ander Christelik-gefundeerde skole te kan plaas nie waarvoor daar groot begrip is. Die taak vir die ouers om dan by die huise seker te maak dat ons kinders se denke nie vervreem word van dit waarin ons glo nie, raak dan ‘n baie groot verantwoordelikheid gegewe ons doopbelofte.
Die voorreg wat ons tradisioneel gehad het om tussen huisgesin, skool en kerk die sement van inbinding – die begrip Christelik-nasionaal – te kon ervaar, het verlore geraak. Dit is vandag ons taak om seker te maak dat ons ons geloofsverbintenis as die enigste volhoubare sement, nie verlore gaan nie. Ons is dit verskuldig aan ons volk se jeug om op vaste basis die toekoms te bou.
TLU SA staan onomwonde by ons begrondingsklousule naamlik ons geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in Sy woord, die Bybel. Mag ons deurentyd ons krag en antwoorde juis daar gaan kry.