Op koers na die toekoms is die boodskap wat TLU SA se Kongres vanjaar dinamies uitgestraal het. TLU SA is bekend daarvoor dat ons ‘n saak by die naam noem en hierdie kongres was geen uitsondering nie. Ons herverkose presdident, Henry Geldenhuys, het in sy rede duidelik die koers aangedui wat nodig is om landbou in produksie te hou.
Suid-Afrika se inwoners sal vinnig by die besef gebring moet word dat die antwoord vir welvaartskepping gesetel is in ekonomiese beginsels wat in ’n gesonde beleidsomgewing toegepas word in ’n bestel van gewaarborgde privaatbesitreg en ’n markgerigte ekonomie. Nog nêrens in die wêreld is enige bevolking gevoed met ’n ideologie wat nie die ekonomiese toets slaag nie. Die huidige “transformasie” beleid het dit net reggekry om werkende instellings te transformeer na disfunksionaliteit.
Die grootste taak vandag is dat mense opgelei sal moet word om te besef dat dit diegene is wat skouer aan die wiel sit en die verantwoordelikheid aanvaar van wat die lewe van elk vereis en dan te woeker met hul talente wat vir hulself ’n toekoms sal skep. Geen persoon kan enigiemand anders bemagtig nie – dit is iets wat elk self moet doen. Die staat se verantwoordelikheid is om ’n omgewing te skep met ’n beleid wat vertroue inboesem. Daarmee saam ’n veilige omgewing waar inwoners graag sal wil woon, werk en ontspan. Diegene wat die toekoms wil ontgin sal dan hulself bemagtig, want al die geleenthede is daar.
Daar sal geen uitkoms vir die steeds stygende werkloosheid en gepaardgaande armoede wees wat jaarliks met die huidige beleid groei, sonder ekonomiese groei nie. ’n Kultuur van blaamverplasing en ook ’n opeis-kultuur asof die wêreld mense iets skuld, vererger net die probleem.
Die besprekings tydens die kongres het beklemtoon dat die mate van stabiliteit wat ons tans in Suid-Afrika ervaar baie te danke is aan die feit dat ons kommersiële boere het wat voedsel op ons markte lewer. Dit is verblydend dat die boodskap wat TLU SA nog altyd uitgedra het, vandag bewese is as die antwoord wat ’n sinkende ideologie kan teëwerk.
Ek wil hier herhaal wat tydens die Kongres beklemtoon is, dat ons verbruikers naas die produserende boere sekerlik die belangrikste groep in die waardeketting is. Ten einde seker te maak dat ons gesamentlik kan toesien dat daar kos – as die belangrikste stabiliseerder vir die toekoms – op die bevolking se tafels is, sal Suid-Afrika se inwoners moet eerlik raak met hulself oor watter standpunte gebesig moet word vir ’n positiewe uitkoms. Verbruikers kan TLU SA ondersteun as vriend van TLU SA om sodoende ook u bydrae te maak sodat die regte boodskap uitgedra en bevestig sal word.
Groete,
Bennie