Om ’n standpunt te hê
Deur al die jare het TLU SA se beleidsinstellings naamlik die Kongres, Algemene Raad en Uitvoerende Komitee duidelik beleid bepaal wat deur die lede vasgelê word.
Die toets is telkens wat is in beste belang van die boer op sy plaas. Dit het meegebring dat daar nie afgewyk word nie van dit wat die lede bepaal. Die primêre kriteria wat hierdie besluite gerig het was om elke besluit te toets oor wat die effek sal wees teen ekonomiese volhoubaarheid. Daarom het TLU SA klinkklaar en duidelik standpunt ingeneem teen aspekte soos SEB en ander programme wat onder ’n transformasie agenda gedryf word. Dit was slegs TLU SA wat destyds met die instelling van SEB nie daarop afgeteken het nie. Al die ander rolspelers in die waardeketting het ingekoop.
TLU SA se beleid is suiwer en dit is verblydend om te sien dat ander rolspelers al hoe meer dieselfde standpunte as TLU SA begin inneem. Die gevaar is die posisie wat ons nog deurentyd ingeneem het nou dalk gemeet word aan waar ons staan teenoor ander rolspelers en nie om net vas te hou by dit wat ons weet die regte besluit is. Dit kan meebring dat ons moontlik ’n bepaalde afstand van ander rolspelers wil handhaaf en soos hulle al hoe meer ons standpunte begin onderskryf ons kan neig om die afstand te hou en nie die standpunt nie.
’n Goeie voorbeeld is die onlangse standpunt wat SAAI ingeneem het oor die SEB vereiste wat deur PPECB gestel word vir uitvoere waarop hulle intussen bietjie teruggekrabbel het. Van die rolspelers in SAAI het in die verlede SEB ondersteun en is daar nou dankbaarheid dat hulle die standpunt wat TLU SA nog deurentyd gehandhaaf het, ook nou ondersteun. Wat egter jammer is, is die stelling in die verklaring dat hulle “nie soos ander landbou unies sy lede aanraai om konstruktief in die PPECB se prosesse deel te neem nie”.
By implikasie kan dit die indruk skep dat dit TLU SA kompromitteer asof ons dan nou ook skielik SEB onderskryf wat natuurlik van alle waarheid ontbloot is. Die saak is met SAAI opgeneem en hulle het verskoning aangebied vir die woordkeuse wat moontlik so ’n indruk kon skep. Hulle het geen twyfel waar TLU SA met hierdie saak staan nie en het nie bedoel dat dit op TLU SA van toepassing sal wees nie.
TLU SA is deel van verskeie prosesse waar daar beding word om suiwer standpunte in te neem. So is daar byvoorbeeld ’n 10 bladsye dokument ingedien oor die AAMP proses wat nog uitgeklaar moet word alvorens daar aangegaan kan word met die proses. Die gesprekke is nog in afwagting.
Mag ons volhard om ons standpunte suiwer oor te dra en indien ander rolspelers dit ook begin onderskryf daar eintlik waardering moet wees, want dan bewys dit ons invloed speel ’n rol.








