Waardes en beginsels
Die laaste tyd het die uitleef en instandhouding van waardes en goeie beginsels in vele opsigte weer na vore gekom. Op die einde van die dag is dit waaraan mens (of die organisasie) gemeet word en bepaal dit wat gedoen word en ook hoe dit gedoen word uiteindelik jou nalatenskap.
Suid-Afrika gaan tans gebuk onder die onlogiese optrede van ’n regering wat hoofsaaklik fokus op hul politieke party se oorlewing sowel as die magstryd daarbinne en word daar weinig werk verrig om die land na beste voordeel van die inwoners te regeer nie. Almal betaal die prys van die wiele wat al hoe meer afkom en is dit inderdaad die armstes van die land wat die ergste getref word.
Die resultate van die ANC se 20 jaar van vernietigende optrede is daar vir almal om te sien. Elke persoon behoort ook van tyd tot tyd ’n rukkie stil te staan oor hul eie nalatenskap as persoon maar ook by die strukture en organisasies waarby hulle betrokke is. Ons wil graag opnuut die etiese kode van ons leiers onder die aandag bring:
ETIESE KODE VIR BOERELEIERS VAN TLU SA (soos daargestel in 1997)
- Om te alle tye in nederigheid en erkentlikheid teenoor ons Skepper op te tree sodat Sy wil en nie ons wil geskied nie.
- Om te alle tye en in alle situasies karakter, eerbaarheid en integriteit te openbaar.
- Om te alle tye die boer se saak doelgerig, eerbaar en vreesloos te stel en te bevorder.
- Om te alle tye na mekaar se tersaaklike standpunte te luister en begrip daarvoor te toon.
- Om op ’n eerbare wyse van mekaar te verskil en ’n saak uit verskeie hoeke te benader ten einde die regte besluit te neem.
- Om meningsverskille oor besluite na buite so te hanteer dat dit nie die beeld van TLU SA leiers of TLU SA skaad nie.
- Om altyd die saak te hanteer en nie die man te speel nie.
- Om nooit eie eer en belang voor die belange van die boer te plaas nie.
- Om nie landbouverhoë te gebruik om party-politieke standpunte te bevorder nie.
- ’n Streekleier moet altyd in kennis gestel word indien daar deur TLU SA nasionale of streek leiers ‘n vergadering in sy streek gehou word.
- Om altyd verdraagsaam tenoor mekaar op te tree en nooit aan iemand anders te doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.
- Om die geloofwaardigheid van die TLU, sy affiliasies en sy leiers te bevorder en nie die beeld van ons organisasie en sy leiers te skaad nie.
- Om die beeld van die SA boer uit te bou en nooit so op te tree dat sy beeld geskaad word nie.
- Om vertroue in die landbousektor te skep en te bevorder ten einde die landbousektor se aandeel in ons totale ekonomiese huishouding te versterk en uit te bou.
- Om in die Drie-Enige-God, jou volk en jouself te glo.
Wanneer daar na hierdie etiese kode van leiers gekyk word besef mens dat dit eintlik net gaan oor begronde beginsels waarna daar op ’n beskaafde en respekvolle wyse gekommunikeer moet word.