TLU SA en Saai werk saam vir mondelingse insette in die Parlement oor beoogde wetgewing
TLU SA en Saai het hande gevat om gesamentlik mondelingse kommentaar voor die Portefeuljekomitee in die Parlement te lewer oor die Onteieningswet – met spesifieke fokus op die konsep van onteiening sonder vergoeding wat daarbinne vervat is. Dr. Theo de Jager het die gesamentlike kommentaar by die Parlement ingedra. TLU SA en Saai se onderskeie ledegetalle verteenwoordig gesamentlik die meerderheid kommersiële boere in Suid-Afrika. Daar word beplan om oor toekomstige insette ook saam te werk ten einde dan inderdaad die sterkste verteenwoordigende standpunt te kan indra.
Die waarde van beginselgedrewe standpunte
Dit is reeds dekades lank wat TLU SA deurlopend suiwer ekonomies-gerigte standpunte uitdra en oor standpunt inneem. Daarvoor was ons deur verskeie ander rolspelers deur die jare vele kere verguis en selfs beskuldig dat ons ‘n politieke organisasie is. Die ironie is dat ons juis uitbreek uit die polities korrekte ondersteuning en telkens kies wat in die beste belang van die kommersiële boer se toekoms is. Dit beteken dat die aspekte wat onder andere winsgewendheid, effektiwiteit, volhoubaarheid en produktiwiteit bevorder, deurlopend in ons visier is en dat die fokus daarop is. Die wyse waarop TLU SA deurlopend op hierdie pad volhard het, is gewis besig om die nodige dividende op te lewer. Daar word al hoe meer ervaar dat die positiewe standpunte van TLU SA ook nou by ander instansies beslag kry. Dit is nie vir ons nodig om te sê: “Maar ons het julle heeltyd gewaarsku,” nie. TLU SA streef na die regte uitkomste en word dit nou ervaar dat die positiewe rigting wat ons al die jare bevorder het, al hoe meer die breë standpunt word. Hoe meer die standpunte wat landbou sal laat leef, bevorder word, en daar wegbeweeg word van die vernietigende ideologiese standpunte – van aspekte soos onteiening sonder vergoeding wat op geen wyse regverdig kan word nie en ‘n transformasiebeleid waar die vernietigende gevolge daarvan vir almal is om te sien – hoe beter is ons kans om die landbou-omgewing te stabiliseer.
Hoe besluit ons?
Die gesegde wat lui: “As iemand nie weet nie, dan weet hy nie,” is hier van toepassing. Met watter inligtingsprent word daar keuses gemaak? Elke mens het ‘n bepaalde verwysingsraamwerk wat die bron van besluitneming is. Sodanige inligtingsprent word opgebou vanuit ‘n verskeidenheid bronne wat geraadpleeg word om uiteindelik, soos stukkies van ‘n legkaart, inmekaar pas om dan ‘n bepaalde prentjie te verskaf wat keusemaking rig. Indien daar oor ‘n bepaalde saak net legkaartstukkies ingevoeg word wat eenogig is en wat dalk gebaseer is op samesweringsteorieë, maak dit die besluitneming inderdaad gevaarlik. Dit is daarom belangrik dat ons seker sal maak van die bronne vanwaar ons inligting verkry. Is dit geloofwaardig? Indien ons elke saak wat op sosiale media verkondig word as die waarheid sou aanvaar, is ons gewis op gevaarlike terrein. Dit is belangrik om oor elke saak wat ons toekoms raak, of dit die politiek van die tyd is en of dit oor beter nagevorste plantmetodes of beter weidingsmetodieke gaan, seker te maak ons het die beste beskikbare inligting versamel om dan die beste besluit te kan maak.
Groete,
Bennie