In enige saak waaroor daar besluite geneem moet word, is die kwaliteit van beskikbare inligting bepalend om ’n goeie of slegte besluit te neem. Die omvang van sake wat ’n boer vandag moet hanteer verg ’n wye deelname en meelewing om goed toegerus te wees met die nodige kennis. In hoe ’n mate lede toegerus word om sake te hanteer, speel die georganiseerde landboustruktuur ’n belangrike rol om die werklikhede aan te spreek. Die bron van kennis vir mekaar is juis mekaar!
Enige knelpunt wat ervaar word, moet aangespreek word. Met die kollektiewe vermoë van die hele struktuur kan ons uiteindelik met die beste planne na vore kom. Deelname in die TLU SA struktuur bring bepaalde voordele en ons moet sekermaak dit word nie as vanselfsprekend aanvaar nie.
- Lede het die voordeel dat hulle deel is van ’n gefundeerde struktuur wat op ’n hegte beginselbasis beding vir ’n beter omgewing vir die lede. In hierdie verband is TLU SA deel van verskeie forums waar daar op ’n deurlopende basis insette gegee word in ’n poging om die beleidsomgewing te stabiliseer en te verbeter.
- TLU SA lidmaatskap se mees onderskatte voordele is om deel te wees van ’n groter groepering boere waar sake van die bespreek word en jy gedagtes uitruil. Die waarde van sodanige skakeling word eers besef wanneer dit verlore is. Lede moet hierdie voorreg koester. Netwerke is van kardinale belang in dié dae en dit moet so goed as moontlik uitgebou en instandgehou word.
- Daar is spesifieke voordele vir TLU SA-lede, maar dit is net van waarde as dit benut word. ’n Voorbeeld is die unieke TLU SA gefundeerde welstand-lessenaar gesetel in die hoofkantoor waar lede met ’n groot verskeidenheid van kundiges hul finansiële beplanning en veral die opvolgbeplanning vir die boerdery kan doen. Daar is ook die afslag op diesel en kunsmis danksy Verco Energy en Timac Agro onderskeidelik. Die adviesdiens vir graanverbouing om met die kennis uit jarelange navorsing boere by te staan om te strewe na maksimum wins instede van maksimum opbrengs.
Die prys van onbetrokkenheid begin later te groot raak en is die verlies van hierdie sowel as ander voordele iets wat gewoonlik te laat besef word. Meelewing is tot my eie voordeel, maar net so ook vir my medeboere met die dat ons netwerke instandhou en kennis deel. Ons moet altyd onthou dat die koste van om te weet is weglaatbaar teenoor die koste om nie te weet nie.