Boere herstel self paaie. Hulle pomp hul eie water. Hulle leef agter tralies terwyl misdadigers vry rondloop. Die een kind is reeds oorsee, die ander een oorweeg dit. En steeds moet hulle by wet verduidelik hoekom hulle wíl aanhou boer.
“Daar is ‘n fyn lyn tussen verwaarlosing en sabotasie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Ons sien daagliks dat staatsbeheerde dienslewering doelbewus afgebreek word – en dit het ’n enorme impak op die landbou en die platteland.”
Terwyl politici hul salarisse verhoog en planne beraam vir nog regulasies, bou boere hul eie energie-oplossings, patrolleer hul eie gronde en help hulle mekaar oorleef. Die vraag wat begin opklink, is nie meer: “Wanneer gaan dinge regkom?” nie, maar eerder: “Wie is verantwoordelik?”
TLU SA merk ’n toename in navrae van boere, jong mense en families wat nie meer in die stelsel glo nie – en wat aktief begin soek na alternatiewe maniere om hul regte en toekoms te beskerm.
“Die regering se beleid rig direkte skade aan. Dit raak gesinne, produksie, voedselsekerheid en die algehele moraal van mense wat elke dag opstaan om te werk,” sê Van Zyl. “Ons sit nie meer met ’n administratiewe probleem nie. Ons sit met ’n ideologiese aanval op die ruggraat van die land.”
Dis nie toevallig nie. Dis beleid.