Wanneer ’n senior burger sterwe verloor ons kennisgewys nie net ’n enkele eksemplaar of selfs ’n ensiklopedie van lewenservaring nie, maar eintlik ’n hele biblioteek. Daardie
ervaring wat oor die jare opgedoen is, is inderdaad die fondament van kennis vir die komende geslagte. Die vraag is of ons dit korrek vaslê vir komende geslagte.
In ’n era waar alles vinnig beweeg en tegnologie daagliks voortstorm, is daar iets kosbaars wat stadig besig is om uit ons hande te glip – die stories van toeka se tyd, spesifiek die verhale van hoe landbou in Suid-Afrika gevorm is. Terwyl ons vandag oor uitsonderlike vermoë en tegnologie beskik om juis al hierdie stories maklik te kan vaslê, hardloop ons met ’n spoed die toekoms in en verloor hierdie “biblioteke”.
Hierdie stories is nie net ouma se nostalgie of oupa se “ons het so met die donkiekar skool toe gery”-ervarings nie. Nee, dit is die lewende geskiedenis van ons plase, ons gemeenskappe, en uiteindelik van ons land. Elke ou stoorkamer, elke kraalmuur wat al dekades staan, en elke ploeg wat in ’n skuur lê en stof vergader, dra ’n storie. Maar wat gebeur met daardie verhale as ons nie tyd maak om dit op te teken nie? Hulle verdwyn – stadig, maar seker – en daarmee saam verloor ons iets van onskatbare waarde: perspektief, identiteit en lesse vir
die toekoms.
Die ontwikkeling van landbou in SuidAfrika was nie altyd maklik nie. Boere moes aanpas by uitdagende klimaatsomstandighede, politieke onstabiliteit, oorlog, droogtes, en markte wat meer dikwels teen hulle as vir hulle was. En tog, ondanks al hierdie uitdagings, is gemeenskappe opgebou, kennis oorgedra en families generasies lank op dieselfde
stuk grond behou. Familieboerdery het deur die jare die grondslag gelê vir landelike stabiliteit. Dit is juis in hierdie verhale – van hoe boere uit niks begin het, hoe gemeenskappe mekaar ondersteun het, en hoe slim oplossings gevind is vir groot probleme – waaruit daar inspirasie vir vandag en môre se landbou is. Want landbou is nie net ’n ekonomiese bedryf nie, dit is ’n leefwyse, ’n roeping en ’n kultuurerfenis. Ek wil ’n beroep doen op jonger geslagte, maar ook op diegene wat nog die ou stories onthou: Skryf dit neer. Neem jou foon en maak ’n stemopname van Oupa wat vertel van sy oupa se eerste ossewa, of die droogte van 1976. Stof daardie ou dagboeke af en begin dit digitiseer. Vra vrae, maak tyd, dokumenteer, al is dit net vir jou familie se nageslag. Maar deel dit ook met TLU SA. Want wie weet hoeveel jong boere in die toekoms daardie stories nodig gaan hê wanneer hulle hul eie uitdagings aanpak?
Dalk is dit tyd dat ons organisasies – skole, kerke, landbouverenigings – projekte aanmoedig wat spesifiek fokus op die vaslegging van hierdie geskiedenis. ’n Jong mens wat vandag leer hoe sy oumagrootjie elke oggend voor sonop botter gekarring het, of hoe sy oupa se oupa as jong kind alleen met die skape na die winterveld moes gaan, kry iets wat geen handboek of YouTube-video ooit sal kan gee nie: konteks, trots en ’n gevoel van verbintenis.
Ons moet nie wag vir die groot geskiedskrywers nie. Die ware stories lê nie net in argiewe of akademiese boeke nie, hulle lê in die mense rondom ons. As ons nie vandag begin opteken nie, is dit môre te laat. En as ons nie self ons stories vertel nie, gaan iemand anders dit vir ons doen, en dalk vertel hulle dit nie reg nie.
Laat ons dus die nostalgie gebruik as dryfkrag. Nie om in die verlede vas te kyk nie, maar om die rykdom daarvan te gebruik om die pad vorentoe beter te verstaan en te bou. Elke storie, hoe klein ook al, vorm deel van die groter prentjie van ons land se landbou-erfenis.
Kom ons begin vandag. Vra, luister, skryf neer. Want eendag, wanneer iemand vra waar ons vandaan kom en hoe ons so ver gekom het, moet daar iets wees om vir hulle te wys. Nie net grafieke of statistieke nie, maar lewende, egte verhale van mense wat geplant het, geploeg het, gesweet het, en geglo het, want ons leef immers daagliks ons kultuuropdrag uit soos verkry uit die Woord van God.



