Vir die afgelope 30 jaar het die ANC volgehou met ‘n beleidsomgewing wat geen positiewe resultate vir die land en sy mense ingehou het nie. Suid-Afrika worstel met hoë misdaadvlakke, stygende werkloosheid, vervallende infrastruktuur, swak onderwysresultate en ‘n ekonomie wat eenvoudig nie aan die gang kom nie. Boonop het die regering deurgaans rasgebaseerde wetgewing ingestel, wat die land verder verdeel en ekonomiese vertroue ondermyn.
“Op hierdie stadium behoort elke burger te besef dat die ANC se einddoel is om Suid-Afrika te hervorm volgens ‘n sosialistiese en kommunistiese model,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Elke beleidsbesluit en wetgewing wat deurgevoer word, moet in hierdie lig beoordeel word.”
Sedert die ANC nie meer ‘n volstrekte meerderheid in die verkiesing behaal het nie en steun na die ekstremistiese linkerkant verloor het, het hulle toenemend radikale besluite geneem in ‘n poging om steun te herwin. Een van die jongste gevalle hiervan is die Onteieningswet, ‘n kortsigtige en drakoniese stap wat beleggers verder afskrik en ekonomiese groei knel.
“Elke instansie en individu wat iets verstaan van ekonomie het lankal gewaarsku dat onteiening sonder vergoeding ‘n katastrofiese impak op beleggersvertroue sal hê,” voeg Van Zyl by. “Wat verstaan die ANC nie?”
Die Onteieningswet hou ernstige gevare vir die land se inwoners in, en alles moontlik moet gedoen word om hierdie wet teen te staan. TLU SA het van die begin af ‘n sterk standpunt ingeneem – eers teen die poging om die Grondwet te wysig en nou teen die wet self – en bly toegewyd daaraan om die regering te wys dat hierdie wet nie beleggingsvertroue bevorder nie, maar eerder ekonomiese vernietiging meebring.
TLU SA spreek sy dankbaarheid uit teenoor alle rolspelers wat die erns van hierdie saak insien en besef dat die probleem van meet af aangespreek en gestuit moet word. Die onteieningsklousule is nie grondwetlik nie en behoort deur die Konstitusionele Hof verwerp te word.
Na breedvoerige konsultasie met verskeie ander rolspelers is dit duidelik dat ‘n aantal organisasies die grondwetlikheid van die wet in die hof gaan toets. Dit is noodsaaklik dat diegene wat litigeer hul regsargumente belyn om te verseker dat geen party per abuis ‘n argument opper wat ‘n ander se saak ondermyn of afwater nie.
TLU SA se regspan is gereed om die nodige regsaksies te ondersteun, maar verkies om in vennootskap met ander instellings op te tree om ‘n so sterk moontlike saak voor die hof te stel. “Ons is reeds in gesprek met ‘n welbekende organisasie wat sukses in die Konstitusionele Hof behaal het, en ondersoek moontlike samewerking om hierdie wet met volle mag teen te staan,” bevestig Van Zyl.



