Na aanleiding van die uitermatige hoë insetkoste wat die laaste tyd elke plaas negatief beïnvloed, is daar heelwat navrae gedoen om te kyk of ons moontlik goedkoper kunsmis, diesel en ook volhoubare elektrisiteit in die hande kan kry.
Uiteraard is die kwaliteit van kunsmis en diesel ononderhandelbaar. Daar is reeds ’n skrywe uitgestuur oor die verkryging van ureum en indien daar voldoende belangstelling is, kan daar voortgegaan word met bestellings. Dit blyk dat vir die huidige seisoen daar moontlik voldoende kunsmis beskikbaar is aangesien ons nie baie navrae ontvang nie. Vir die toekoms kan die kanale wat oopgemaak is wel vir ons lede tot voordeel strek en sal ons soos dinge ontsluit die nodige inligting deel.
Ons ooreenkoms met TiMac Agro vir kunsmis staan steeds waar daar redelike afslag vir ons lede beding is. Hulle gee ons die versekering dat hulle voldoende voorraad beskikbaar het. Navrae in die verband kan ook gedoen word om veral vanjaar te kyk of dit nie dalk koste effektief is nie. TLU SA kry ook ’n voordeel indien lede daar bestel en net meld dat hulle TLU SA lede is.
Heelwat pogings is begin om te kyk of ons diesel ook goedkoper kan verkry. Daar word op 3 Augustus ’n seminaar aangebied by TLU SA se hoofkantoor oor die vervaardiging van bio-diesel uit soja wat voldoen aan al die vereiste spesifikasies. Die koste van bywoning is R50. Die aanvanklike berekeninge wys dat dit wel lonend kan wees om self te vervaardig, maar dit gaan ook oor die strategiese posisionering om eie diesel beskikbaar te kan hê. Niemand kan vandag sê wat die beskikbaarheid van brandstof vorentoe gaan wees nie en ook nie prys nie. Dit kan boere loon om in die verband ’n strategiese besluit te neem. Om te registreer vir die diesel-seminaar stuur ’n e-pos aan sekretaresse@tlu.co.za
Ons is ook besig met verskeie rolspelers oor die daarstelling van volhoubare energie vanuit hernubare bronne (son, wind en water). Soos die inligting beskikbaar raak, sal ons dit versprei na ons lede. Ons het by die hoofkantoor reeds ’n stelsel ingesit wat ons help om die beurtkrag te kan oorbrug. Soos dinge kan versleg kan die stelsel maklik uitgebrei word om ons totaal onafhanklik te maak.
Foto: Etienne Girardet | Unsplash

