James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Is jou pampoen ʼn Goliat of ʼn Dawid?

“Toe ons 19 jaar gelede op ʼn naam vir die kompetisie moes besluit, het ons na ʼn naam gesoek wat eerstens na die grootte van die pampoene verwys, sowel as na iets eie aan Cullinan. ‘Goliat’ dui aan dat ons hier met groot pampoene te doen het, en ‘Gat’ verwys na Cullinan se groot diamant-gat. Toevallig lees ons ook in 1 Samuel 17:4 dat Goliat uit die dorpie Gat kom,” vertel Henri Combrink, TLU SA-streeksvoorsitter: Sentraal.  

Die Goliat van Gat Pampoenkompetisie vind op Saterdag 11 Maart by die Pretoria Boeremarkterrein in Silverton plaas. Daar sal pryse wees vir die swaarste, mooiste en lelikste pampoene. As jy dus dink jy het ʼn pragtige Dawid-pampoen beet, moet jy beslis tussen 14:00 en 16:00 kom inweeg.

“Die swaarste pampoen wat die kompetisie tot dusver opgelewer het, was 846 kg en ons hoop om hierdie allemintige rekord dalk vanjaar te breek. Jy kan ook onder andere kom kyk hoe ver jy ʼn pampoenpit kan spoeg en raai wat die pampoene weeg. Daar sal stalletjies en allerhande vermaak vir oud en jonk wees,” gesels Combrink oor hierdie kompetisie wat deur die Cullinan Boere-unie aangebied word en by TLU SA geaffilieer is.

Die prysuitdeling vind om 17:00 plaas en alle pampoene word na afloop van die kompetisie aan liefdadigheid geskenk.

Sou jy dalk die Goliat van Gat Pampoenkompetisie misloop, het Combrink die oplossing: “Jy kan vanaf Maandag 13 Maart by Uitkyk Vleismark in Silverton inloer om te sien watter Goliat koning gekraai het.”

Kontak Henri Combrink by culliboer@gmail.com of 082 552 9428 vir meer inligting.

Kategorie:

Deel dit:

Is jou pampoen ʼn Goliat of ʼn Dawid?