Meer as 2 000 mense het in die twee dae voordat kommentaar oor die omstrede voorgestelde konsepregulasies vir die toekenning van waterlisensies gesluit het, deur TLU SA se platforms hulle afkeer hieroor geopper. Die kommentaar is na die relevante adres gestuur en elkeen dra by om ons misnoë te kenne te gee. TLU SA het self amptelike kommentaar ingedien.
Die departement van waterwese en sanitasie (DWS) het op 19 Mei voorgestelde konsepregulasies vir die toekenning van waterlisensies in die Staatskoerant gepubliseer. Een van die vereistes is dat die lisensies vir landbou en bosbou toegeken moet word aan entiteite wat tussen 25% en 75% swart aandeelhouding het.
“Ons wil elke persoon wat hieroor kommentaar gelewer het bedank,” sê Bennie van Zyl hoofbestuurder van TLU SA. “Die instroom van afkerende kommentaar bevestig dat die departement en regering se kortsigtige planne tot nadeel van voedselvoorsiening sal wees. Ons is dankbaar dat verbruikers die korrekte prosedures gevolg het om inspraak te lewer oor iets wat ons almal sal beïnvloed. Dit is die enigste manier hoe ons gaan bydra om die regering se ideologiese planne te kortwiek.”
In die amptelike kommentaar het TLU SA kommer uitgespreek oor die konsepregulasies en verskeie implikasies van die implementering daarvan uitgewys.
– Die veranderinge druis in teen ‘n persoon se grondwetlike reg om te besluit waar en hoe hulle besigheid doen.
– Die gebruik van water is van kardinale belang om voedsel te produseer.
– Kommersiële boere produseer voedsel vir ongeveer 70% van verstedelikte Suid-Afrikaners.
– Die dekmantel van werkvoorsiening is ‘n leuen wat net ‘n bitter klein persentasie mense tot ‘n mate kan bevoordeel.
– Markkragte het altyd die finale sê in die sukses van die ekonomie. ‘n Sterk ekonomie kan slegs volhoubaar bestaan indien ekonomiese beginsels bo ‘n ideologiese aanslag gevolg word.
“TLU SA verwerp die konsepregulasies,” sê Van Zyl. “Dit is duidelik oorhaastig en met ‘n spesifieke ideologie in gedagte saamgestel. Dit hou geen voordeel vir Suid-Afrika in nie.”








