Die Eiendomsreg Konferensie, aangebied deur die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte en ondersteun deur TLU SA, het vandag by TLU SA se kantoor in Silverton, Pretoria, plaasgevind. Onder die tema “Eiendomsreg as die Sleutel tot Vrede” het sprekers uit akademiese, regs-, politieke en burgerlike sektore die dringende kwessie van grond- en eiendomsreg in Suid-Afrika ondersoek. Die Ad Hoc Groep bestaan uit 53 organisasies uit verskillende sektore en politieke kringe, wat die samewerking en gemeenskaplike betrokkenheid in die beskerming van eiendomsreg weerspieël.
Die program het ’n wye spektrum invalshoeke ingesluit. Prof. Andre Duvenhage het die huidige politieke omgewing ontleed, terwyl Hans-Jurie Moolman die regskonteks rondom grondbesit en hofuitsprake bespreek het. Prof. William Gumede het die risiko van onteiening sonder vergoeding beklemtoon, met spesifieke gevalstudies uit Afrika. Internasionale perspektiewe is deur Joshua Meservey van die Hudson Institute in Washington aangebied, wat gewaarsku het teen die gevolge van radikale grondhervorming.
Politieke rolspelers het die saal gevul met uiteenlopende standpunte. Willie Aucamp (DA), dr. Corné Mulder (VF Plus) en Phumlani Majozi het elk die belangrikheid van eiendomsreg as ’n fondament vir alle Suid-Afrikaners beklemtoon.
Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het ook die geleentheid gebruik om waardering te wys:
“As boer sê ek vir die Ad Hoc Groep dankie vir wat julle doen en aan elke teenwoordige: dankie vir julle harde werk. Boere wil werk en kos op die tafel sit, maar dankie vir die werk wat julle doen. Moet nooit moeg word nie.”
Volgens TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, is die boodskap van die dag duidelik:
“Sonder die beskerming van eiendomsreg kan daar geen ekonomiese stabiliteit, geen beleggingsgroei en geen toekoms vir landbou of werksekerheid wees nie. Die reg op eiendom is nie onderhandelbaar nie, dit is die anker vir vrede en vooruitgang in Suid-Afrika.”
Die konferensie het afgesluit met ’n oproep dat alle belanghebbendes, van die politieke sektor tot georganiseerde landbou en burgerlike samelewing, saam moet werk om eiendomsreg onwrikbaar te beskerm.



